Inleiding
Vir baie jare al wou ek graag na vreemde plekke in Afrika reis, nie per vliegtuig nie, nee, ry met ‘n kar en kamp sover ons gaan. Dis nou ek en my ster vrou, Erina. My plan was om ten minste 8 weke te reis en daarvoor het mens ‘n toermaat nodig wie jy baie goed ken en waarmee jy baie goed oor die weg kom. Maar om deur Afrika te ry het mens nie net ‘n goeie maat nodig nie, jy het ook ‘n 4X4 voertuig nodig en ‘n goeie een daarby. Ek het ál die 4X4’s deurgekyk en besluit op die beste een vir Afrika toestande, ‘n Landrover Defender TD5 90. Nie net lyk dit na die stewigste 4X4 nie, hy is deur die jare beproef in Afrika en het nie onnodig baie komplekse elektronika nie . Maar meer daaroor later. Die 4X4 voertuie is flippen duur en ek kon nooit een bekostig nie, wou nie skuld maak nie en wou ook nie ‘n tweedehandse een koop nie. Uiteindelik het my kans gekom in 2003, ná ek MY SENTIMENTAL SOUL en ook AFRIKAANSE JUWELE kort na mekaar opgeneem het. Albei het goue verkope gehaal en ‘yippee!!’, ek kon my Landie bekostig. As mens Land Rover Tygervallei in Bellville skakel verstaan die Afrikaanse skakelbord persoon gladnie wat Tygervallei is nie en wil sommer die gesprek kortknip as jy nie onmiddellik verander na ‘Tiger Valley’ nie. Vreemd. Ek en Erina stap deur die vertoonlokaal en kyk en kyk en klim in en start en so aan. Die verkoopsman sê almal is verkoop op die vloer maar hy sal laat weet sodra ‘n nuwe een afgelewer word. ‘n Week later bel hy en sê hy het een in Durban gekry, hy stuur ‘n foto per e-pos. Ons wonder wat die kleur sou wees maar het nie nodig gehad om lank te wonder nie. Ek maak die e-pos oop en val feitlik reg agteroor van my stoel af. “Hoe dink jy moet ek met ‘n geel ‘Camel’ advertensie, AA padbystand Land Rover rondry?!” sê ek vir hom oor die telefoon. Hy praat dié kant toe en soontoe en stel toe voor as ons weer Kaap toe kom vanaf Hermanus moet ons die Landie kom haal en so tien dae gebruik voor ons besluit. “Fanie, this Land Rover has your name written all over it” probeer die man my vang met sy ‘sales talk’ toe ons die kar gaan haal. Deur die week werk sy taktiek toe ek soveel komplimente oor die ‘cheeky’ geel Landie kry dat ek hom koop en nou na 10 jaar was ek nog geen oomblik spyt nie. Die ideale kar vir Afrika toestande. Toe Hennie du Plessis van Van Der Kloof hoor van my Landie sê hy “Ek hoor jy het vir jou ‘n Oliekol gekoop?” Ja, ons is nog vriende. Ons het saam deur Namibië se Kaokoland gery in 2007, hulle met ‘n wit ‘Watsenaam’ en ons met die geel Landie. My ou skoolvriend, Hendrik (Besem) Joubert het die Landie onlangs op ‘n tweede reis na Kaokoland die ‘GEEL TOR’ gedoop Ons eerste toer met die Landie was alleen na die Richtersveld vir ‘n week. Daarna weer alleen na Botswana en deur Namibië terug Kaap toe. Dit was ‘n drie weke toer. In Botswana het ons op die grond gekamp in ‘n ‘dome’ tent en het ongelooflike ervarings gehad, mooi herinnerings teruggebring. Ons het ook ‘n baie aangename Weskustoer saam met die RSG 4X4 klub gedoen. Daarná het ons saam met Hennie en Ronel du Plessis deur Kaokoland en al langs die Kunene rivier gery. ‘n Jaar later is ons saam met Besem en Hanti Joubert en Danie en Jurina Biermann, almal ou skoolvriende, terug na Kaokoland en die Kunene. Ek het ‘n geweldige affiniteit vir groot Afrika riviere, ek sal weer en weer die 2500 Km na die Kunene ry, wat ‘n ervaring en ‘n toets vir ‘n 4X4 bestuurder en sy passasiers se gesindheid.
17000 Km Deur Afrika – Junie 2011
As mens ‘n idee probeer vorm van ‘n reis deur Afrika dan sien jy gewoonlik in jou gedagtes grasvlaktes of savanna, bosse, diere en gegroepeerde kleihutte of kraals waar swart vroue mielies in ‘n uitgeholde boomstomp of klip fynstamp met ‘n paal en die mans lui lui vir jou waai vanwaar hul aan die sonkant van die hut sit en gesels, of sommer net sit. Dit is min of meer in die kol, maar alhoewel ek en Erina al ‘n hele paar draaie gery het deur die Suide van Afrika, Suid van die Ewenaar, was daar op hierdie uitgebreide reis elke dag iets nuuts en interessants. Sommer dadelik moet ek sê Afrika Noord van die Zambesi, so het ons vinnig geleer, is ‘n toets vir jou karakter, geloof, deursettingsvermoë en natuurlik jou finansies. Maar as mens weet wat om te verwag van Afrika en deeglik voorberei is die aanpassing as jy eers daar is nie so erg nie. Ek wou nie onvoorbereid daar aankom nie en het so op my leeke manier baie nagevors op internet en toe aan die werk gespring. Om een of ander rede was die Voortrekkers van weleer dikwels in my gedagtes, gewonder hoe kon hulle alles wat nodig was onthou en laai op ‘n ossewa en dan boonop sonder kaarte en GPS die vreemde intrek. Ek het besluit om die toer aan te pak sonder ‘n GPS. “ ‘n GPS bederf tot ‘n mate die avontuur en romantiek van so ‘n trip” het ek eendag in Kaokoland aan my vriend Danie Biermann probeer verduidelik. Hy het my in ongeloof oor die vuur se vlamme aangestaar . Nou, in náwete besef ek Danie was reg, jy hét ‘n GPS nodig. Behalwe dat dit jou vinnig en maklik by jou bestemming bring bevat dit ook baie inligting oor akkommodasie, vulstasies en ander aspekte wat jy nie op padkaarte sien nie. Ons is toe Afrika in sonder ‘n GPS en met ‘n paar swak padkaarte. ‘n Goeie padkaart is natuurlik absoluut noodsaaklik maar ons kaarte het verkeerde en dikwels géén afstandaanduidings getoon nie. Ek het geleer om nooit weer ‘n Infomap saam te neem nie. Op ‘n skaal van 1 tot 10 lê hulle ongeveer by 2. MapStudio is bietjie beter maar nog steeds onvolledig en ook lomp om oop te vou in ‘n voertuig. Die beste is seker maar die Engen of Shell kaarte in boek vorm. Daar moes ekstra laaie in die Landie gebou word vir gerief. Die tent, tafels en stoele, gastoerusting, stofie, yskas, waterkanne, dieseltenks, gereedskap vir noodgevalle, spaarwiele, ens, ens, moes nagesien word. Die Landie moes deeglik gediens word en nuwe bande kry. In my haas om als gedoen te kry het ek vergeet dat die Landie 4 weke vantevore gediens was en ek laat diens hom wragtag weer. Die Landie kon seker nie die spesiale aandag glo nie!
Dit was ‘n sonnige en stil wintersoggend toe ons op 12 Junie 2011 uit Hermanus vertrek. Dit was so ‘n mooi dag dat ons amper ons vertrek ‘n dag uitgestel het. Maar die wintersdae hier op die Weskus is dikwels so mooi dat ons dalk nooit sou wegkom nie, so klim ons toe maar in en vertrek na die vreemde. Ons het láát weggekom, eers 10h30. Erina blameer my. “What’s new” sê sy net om my vir oulaas in Hermanus bietjie te irriteer. Ek steur my toe nie daaraan nie omdat sy gerieflikheidshalwe vergeet van die ontelbare kere toe ek weer die enjin moes afskakel omdat sy nie haar verskyning maak nie. Meeste mans weet waarvan ek praat. Ons mik vir ten minste Plettenbergbaai voor sononder. Vier ure later hou ons stil by ‘n vulstasie in George om swaer Sybie en sy vrou Nina te groet. Sybie is Erina se broer en sy is baie mooier as hy maar hy is darem vriendelik. Ons gooi die kaart op die Landie se enjinkap oop en bespreek vlugtig die roete. Sy lyftaal het verraai dat hy baie graag vinnig sou wou pak en saamry. Ons groet herinner aan ‘n vaarwelgroet soos twee Voortrekkerleiers van ouds. Daarna hou ons stil in Wildernis vir ‘n koffie saam met Hendrik en Hantie Joubert wat toevallig vanuit Pretoria daar vakansie hou. Hendrik is altyd vol grappies maar afskeidneem is vir hom ook ‘n ernstige saak en weereens groet ons Voortrekkerstyl. Was daar nie ‘n bekende Joubert Voortrekkerleier nie? Sedgefield is een van my gunsteling stilhoudorpies want Thinus Hartmann verkoop die beste droëwors in die Wes Kaap uit sy slaghuis wat sigbaar is vanaf die hoofpad. ‘n Paar jaar gelede stap ek die eerste keer by sy winkel in en by die betaalpunt wou sy masjientjie nie my kredietkaart registreer nie. Hy beweer toe my (splinternuwe) kaart makeer iets en begin die magneetband oordadig op sy broekspyp vryf. Die bank het my die dag vantevore teen ‘sulke kassiere’ gewaarsku en ek sê vir hom baie drifting “moenie my kaart so vryf nie!”. Hy sê “hoe dink jy dan moet ek die transaksie deurkry?!” Ek sê en hy sê en so gaan ons aan tot die transaksie eindelik deur is. Erina kry skaam en gaan staan buite. Toe ek by die deur uitstap hoor ek wragtag weer sy stem: “Mnr. De Jager, ek sal daai CD wat jy adverteer in elk geval gaan koop”. Ek wonder dikwels of hy toe die CD gekoop het maar ons is nou groot vriende. Hierdie keer koop ek 2 Kg droëwors in plaas van die gewone 500 gm want ons gaan baie ver ry. Ons kom 17h30 die middag in Plettenbergbaai aan. Monica was my skoonma se goeie vriendin voor sy – my skoonma, nie Monica nie – oorlede is. Ons kuier altyd heerlik by haar en Eric. Dit was weer so hierdie keer. Hulle is altyd oorversigtig – ek vermoed hulle was beide hoofseun en hoofmeisie waar hulle skoolgegaan het – en kon ons nie genoeg waarsku om versigtig te wees en die verkeersreëls te gehoorsaam nie. Maandag is ons vroeg op, ons wil haastig wegkom maar Monica is voor ons in die kombuis. Soos gewoonlik wil sy ‘n groot ontbyt voorberei maar ons is agter skedule, ons moet Port St. Johns op die Transkei kus haal 800 Km verder en bedank haar aanbod van vrugte, toast en kaassmeer op die balkon. Erina slaan altyd Eric se spesiale vrugte ontbyt oor, maak haar tande skurf sê sy, en gaan dan sommer dadelik na die toast en kaas maar vandag is daar nie tyd nie. Ons kom 8 uur weg en ry voorspoedig na Mthatha, voorheen Umtata. Halfpad stop ons langs die pad in ‘n oop veld. by Peddie vir ‘n vinnige piekniek. Kinders waai entosiasties vanuit die nabye woongebied. Twee swart mans kom verbygestap en een stop om sy gebied Afika styl soos ‘n leeu af te baken. Vreemd dat Afrikane, ongeag van rangorde of klas, nog die afbaken instink het in die jaar 2011. Dan kla hulle as die toilette in Kayalitsha nie omhein is nie??!! Mthatha is ‘n tipiese sentraal Afrika stad verkeerd geplaas in Transkei. Informeel, kleurvol, harde Afrika musiek met baie verkeersknope wat een groot verkeersknoop word. Eindelik ‘n uur later deur Mthatha ry ons ‘n slegte teerpad en kom net na sononder aan by Port St. Johns. Ons ry reguit na Cremorne Lodge op die Mzimvubu rivier waar ons al voorheen oornag het tydens ‘n konserttoer. Ons kamp nog nie, ons huur ‘n klein hout bungalo vir R400. Dis vriesend koud en nat na heelwat reën die vorige paar dae maar na ‘n warm stort is ons weer aan die gang en sit heerlik met ‘n glasie wyn langs die vuur. Daardie nag slaap ons rustig en diep. Die Suidkus van Kwa Zulu is baie mooi maar heeltemal te besig na my sin en die volgende dag ry ons so vinnig moontlik om hopelik St. Lucia te haal. Die Landie se ligskakelaar het die vorige aand by Port St Johns opgehou werk en ons vra hulp van ‘n Auto elektrisiën in Port Shepstone. Terwyl die kundige na die skakelaar probleem omsien gesels ons by die ontvangstoonbank oor musiek. Hulle sê Afrikaanse musiek beleef ‘n bloeitydperk en ek sê “ja, dit gaan dalk nog doodbloei indien iemand nie dringend ingryp nie!” Die kundige sê die ‘fuse’ was te swak, hy het dit vervang met ‘n sterker een en ek hoef nie te betaal nie. Die Munisipale karavaanpark van Richardsbaai is mooi skoon en netjies. Boonop ook baie billik vir ‘n kampeer staanplek. Dit was ons eerste kamp op die toer maar terselfdertyd ook die laaste gerief vir ‘n baie lang tyd want die volgende dag is ons oor die grens na Mosambiek!
Mosambiek – ‘n Hartseer Paradys
Die grenspos by Ponta do Ouro is stil, daar gaan nie veel aan nie en dit neem net 30 minute om alles af te handel. ‘n Amptenaar aan die Mosambiekkant hardloop om ons te keer toe hy sien ons is vanplan om sy land te gaan verken sonder om by sy hoenderhokkantoortjie ‘n helse bedrag te betaal vir versekering of so iets. Ons het sommer gou geleer dit gebeur reg deur Afrika en dikwels beland die helse bedrag nie in die regte koffers nie, het ons ook geleer. Daar was so bietjie heimwee toe ek die petrol trap die vreemde in maar toe ons besef ons gaan radiostilte hê en kan kies waarna ons wil luister, geen Gerte of Rians of Danies nie, slegs mooi musiek CDs of niks, toe trap ek sommer die petrol dieper, yippee! Die grondpad verder na Catembe is baie sanderig maar die Landie is gebou vir hierdie toestande. Hier kom ek toe agter hoe waardevol ‘n GPS sou wees. Die paaie is ‘n doolhof wat oënskynlik lei na nêrens. Ek het ‘n radiotoring in sig gehou as verwysingspunt en uiteindelik by Salamanga aangekom waar die ‘teerpad’ veronderstel is om te begin. Dit was ook ons eerste kennismaking met die baie verrassings in Afrika. Die teerpad bestaan feitlik nie meer nie en is so vol slaggate dat die ‘locals’ ‘n pad begin oopry het langs die teerpad. Ons vorder ongeveer 60Km per uur tot by Catembe en arriver laatmiddag by die veerboot wat voertuie en passasiers heen en weer oor die baai tussen Maputo en Catembe vervoer. Die boot is geroes, verwaarloos en oorvol maar sink gelukkig nie.
Maputo is ‘n vuil en deurmekaar stad, so anders as die idilliese Lorenzo Marques wat ons geken het in die 60’s en 70’s. Ons besluit sommer dadelik dis nie waar ons wil wees nie en druk deur hulle ‘tjailatyd’ verkeer na die Noorde en mik vir Xai-Xai. Ons besef ons gaan eers 11 uur die aand daar aankom maar ten minste weet ons dié dorpie is ‘n skoon toeristeoord want ons het Desember 1972 twee weke in die Xai Xai Hotel deurgebring. Ons kon nie wag vir die lekker warm stort en gerieflike kampplek wat voorlê nie. Die NE1 hoofpad soontoe is in uitstekende toestand en ons kon met gemak 120Km per uur handhaaf. Ha ha, Xai-Xai is ‘n grap! Verwaarloos en stukkend geskiet deur Frelimo. Teen 23h00 ry ons uiteindelik die ‘kampplek’ binne. Dis feitlik op die strand met hoë bome en bietjie spookagtig. Daar is stortgeriewe maar baie verwaarloos en natuurlik sonder warmwater. Ons is die enigste kampeerders. Die maer oppasser wat verlore lyk in sy oorlog ‘comrade’ jas kom staan en kyk hoe ons ‘n middernagete probeer geniet en eet uiteindelik sommer saam. Tussendeur wys hy na die uitspansel en vra of ek die maansverduistering gesien het. “Nee” sê ek en ons staan vir vyf minute en bekyk die interessante verskynsel. Daarna beloof ‘comrade’ hy sal ons mooi oppas, ons kan maar gaan slaap. Die matras in die daktent voel soos ‘n koningsbed na ‘n vermoeiende dag. Vroeg die volgende oggend pak ons vinnig, groet vir ‘comrade’ en ry deur Xai-Xai om herinneringe te herroep maar behalwe die spook hotelgebou is daar niks wat ons laat terugdink aan ons heerlike vakansie baie jare gelede nie. Tot groot vermaak van die onwettige plakkers neem ons fotos van die hotelmurasie en ry verder na Inhambane. Ons ry deur etlike klein dorpies of gemeenskappe op die hoofpad wat wissel van I Km tot soms 20 Km uitmekaar. Teen die einde van ons toer het ons letterlik deur honderde van dié dorpies gery, gewoonlik baie interessant en kleurvol. Inhambane het aantreklik gelyk om by te oornag maar die kus en strande is verwaarloos, so ook die kampplekke en oorde. ‘n Buurman in Hermanus het voor ons vertrek oor en oor genoem van die Campismo kampeeroord in Maxixe. Wat ‘n aangename verrassing. Ek sê mos Afrika is vol verrassings. Ons het heerlik gekamp by Campismo teenaan die see teen slegs R33 per person per nag! Die kamp het ook ‘n restaurant en kroeg, ‘n lafenis vir ‘n moeë reisiger. Maar toe tref die derde Afrika verrassing ons. Teen 11 uur die nag jaag ‘n trok en ‘n bakkie die kamp binne en slaan kamp op direk langs ons, konstruksiewerkers met geen inagneming van medekampeerders nie. Teen 4 uur die volgende oggend begin hulle gereedskap op die bakkie laai. Hulle lag en gesels kliphard met mekaar binne fluisterafstand soos nét Afrika boorlinge dit kan doen. Die ooglopende leier besit ‘n welluidende stem en kan met gemak die bas hoofrol in enige Wagner opera losslaan. Net jammer sy verhoog is toe die graskolletjie langs ons Landie waar hy kom staan om beter te kan gesels op sy selfoon. Ek vra hulle om stiller te werk maar die stilte was van korte duur. Die geheue van my seun Francois se twee honde is ook net so kort. As jy hulle uit die kamer beveel draai hulle kortom by die deur en kom lê weer. Ons het darem ‘n baie mooi uitsig gehad oor die pragtige baai na Inhambane en die skiereiland tot by Ponta da Barra.
Een van ons twee waterkanne het begin lek en ek kry toe die volgende dag‘n beter en sterker een in Maxixe. Dit was baie makliker om inkopies te doen met Mosambiekse Meticas. Die winkeleienaars en vulstasies se omruilkoers is baie swakker as wat die banke aanbied, so ruil ek toe ZAR vir Meticas by ‘n bank en vat die pad na Vilanculos. Die omgewing is geweldig mooi en raak mooier hoe verder Noord ons vorder. Die plantegroei is ruig en tropies met geweldig baie wilde piesangbome en palmbome. Oral langs die hoofweg word tonne en tonne houtskool aan Chinese verkoop. Dit verklaar die lang spiraal rookstrepe wat sover die oog kan sien uit die bosse die lug instyg. Helaas is Vilanculos ook vuil en vervalle. Ons verken die plek en ry verder na Inhassoro. Daar ontdek ons Seta Camp, ‘n pragtige kampplek met skoon ablusie en glo as jy wil, warmwater. Kampfooie is R65 per person. Ons slaan kamp op binne 6 minute. Ons het die kuns nou al bemeester en dit raak al vinniger. Na ‘n heeeeerlike warm stort sit ons en ontspan, Erina met ‘n whisky met baie ys en water en ek met ‘n Amstel waarvan ek oorgenoeg ingelaai het, altans so het ek gedink. Ons vriendelike kampbure roep van dertig meter ver en wil weet of hulle kan kom kuier. Ons ontmoet Peter en sy vrou van Kaapstad. Peter drink feitlik al my Amstels op en sy vrou gebruik ‘n hele bottel Arabella Merlot in ‘n uur. Eina! Daarna gaan eet ek en Erina ‘n patetiese ete by Seta Camp se eie restaurant. Ons is nou ‘n week weg van Hermanus maar dit voel vir my soos twee dae. Die tyd gaan te vinnig verby. In die dorpie Inhassoro loop ons ‘n vleis deli binne om voorraad aan te vul. Die eienaar van die deli begin met ons Afrikaans praat. Hy het ‘n paar jaar gelede daar gevestig sê hy en kry meeste van sy produkte van Nelspruit in Suid Afrika. Erina het as teenvoeter vir my voëltjiekykery ‘n paar boeke saamgebring om te lees en terwyl ons die 8e dag vertrek om Gorongosa Nasionale Park te haal, haal sy haar eerste boek uit. Dis bietjie onregverdig het ek gevoel want as ons albei ons stokpertjies beoefen terwyl ons ry gaan ons nie ver kom nie. Ek werk dus en sy ontspan. What’s new?!
Ons ry nog steeds deur baie mooi landskappe, oor die Save rivier, deur baie interessante klein dorpies en arriveer 16h30 by Gorongosa se Chitengo Camp. Die fooi om te kampeer is skokkend hoog teen R500 per kampplek per nag. Die amptenaar gee my ‘n faktuur vir R1000 en toe ek dit bevraagteken verduidelik hy dat die ander R500 vir die voorreg is om die 30Km deur die park te ry na Chitengo kamp. Sodoende hoef ons nie die volgende dag te betaal indien ons verder deur die park wil ry nie. Ek het amper ontplof. Die bestuurder, van Portugese afkoms en wat my baie aan die kerkterroris, McBride, laat dink, sit so half eenkant en toe hy my frustrasie sien spring hy op en trek sommer dadelik ‘n streep deur die tweede R500. Die Kamp wás seker mooi lank lank gelede, die aanduidings is nog daar. Vir die astronomiese kampfooi het ons ten minste 4 ster ablusie en ander fasiliteite verwag maar slegs 1 ster gekry. Ons het heerlike ‘steak’ en ‘porkbelly’ sosaties gebraai wat ons by die vriendelike Afrikaner in Inhassoro gekoop het. Daarna redelik vroeg in ons koningsbed ingekruip. Die volgende oggend het ek ‘n skokkende ervaring gehad by die mans ablusie. Niks het gewerk nie en wat daar was was so vuil dat mens nie naby kon kom nie. Ek het langarm gestaan en skeer. Gesigwas en tandeborsel het ek toe maar buite onder ‘n kraan gedoen. Volgens Erina was die dames fasiliteite bietjie skoner. Terwyl ons koffie en beskuit geniet kom die skoonmaker van die ablusie gebou af sonder dat hy ‘n steek werk daar verrig het. Ek keer hom voor om sy werksbeskrywing te probeer uitvind maar hy verstaan geen taal behalwe sy eie nie. ‘n Jonger een kom vertaal en so vertel ek hom toe wat ek van die situasie dink. Ek moes seker baie komies gelyk het want hy het als as ‘n grap beskou, net gelag, en ek was eintlik kwaad. Ek het agterna na die Landie se kantspieël gehardloop om te gaan kyk wat dit kon wees wat hom so laat lag, maar niks gekry nie. Als aan my gesig was nog redelik in plek, vir my altans. Maar nou ja, miskien het hy anders na my gekyk, het ek besluit. Na twintig minute, net voor ons vertrek, kom McBride aangestap en bied ons ‘n gratis toer deur die park aan, voel toe natuurlik skuldig oor sy vuil ablusie. Ons het die aanbod aanvaar en die draai gery maar net hier en daar ‘n verdwaalde waterbok of twee gesien. Nodeloos om te sê Gorongosa Nasionale Park sien ons nie weer nie.
Die Zambezirivier is 1Km wyd waar mens dit oorsteek by Caia. Dit is asemrowend mooi. Amper gebruik ek daardie afgesaagde ‘awesome’ woord wat die Suid Afrikaanse rugbysterre so graag op ongelooflik misplaasde wyse gebruik. Die brug is ongeveer 1,4 Km lank en splinternuut. Ek het heelpad soontoe al gesien hoe ons heerlik op hierdie magtige rivier se oewer sit, Erina met haar boek en ‘n whisky en ek met my verkyker en ‘n Amstel en ‘n vuurtjie wat knetter. Maar glo dit as jy wil, niemand het nog ooit daaraan gedink om ‘n kampterrein langs die rivier te plaas nie, nee, die naaste kamp is Qua Qua en is ongeveer 500m verwyder, mens sien of hoor nie eers die rivier nie! Dit was feitlik skemer en ons betaal die R75 per persoon by ontvangs om seker te wees van ‘n slaapplek, gedag die kamp moet seker oorvol wees. Ons was die derde en laaste voertuig om die kamp binne te ry. Ons het sommer gou met die ander kampeerders kennis gemaak. Charl en Erika van der Merwe is van Naboomspruit en het Afrika al kruis en dwars getoer. Hulle ry ook graag alleen soos ons, nie in ‘n konfooi nie en ons het baie van hulle geleer. Gasvry en baie hulpvaardig, so sal ons hulle onthou. Ongeveer 35 jaar gelede het ons dikwels vanaf Pretoria op oom Saag Young se plaas naby Northam gaan naweek hou. Oom Saag se seun, Klein Saag soos ons hom genoem het, het ons altyd ontvang. Klein Saag se broer, Eddie, het verongeluk Noord van Pretoria toe sy helikopter neergestort het. Sy seun, Edwin Young, het ‘n grootwildjagter geword en was een van die kampeerders in die kamp saam met ons. Dink net hoe lekker het ons gesels oor daardie geskiedenis. Die plaas naby Northam het ongelukkig die tuiste geword van die lawaai musiekkonserte, Oppie Koppie, wat sekerlik al die diere wat ons so graag vanaf die koppie bekyk het, tot in Botswana verdryf het.
Oppad na Quelimane word ons opgehou in die kleiner dorpies deur smouse en inwoners wat hul markware op en af in die hoofpad karwei op fietse wat as taxis gebruik word. Dit is sekerlik die goedkoopste manier van vervoer in Afrika. Die begeerte om op so ‘n taxi die hoofpad af te ry was te groot en ek huur een teen groot vermaak van die omstanders. Wat ‘n ondervinding! Geen verkeersreëls nie en baie goedkoop, slegs R1 per kilometer! Later, terug in die Landie en oppad deur die verkeer in die dorp, swaai ‘n jong wintgat fietsryer onverskillig voor ‘n tenger ou man in met ‘n swaar sak houtskool agter op sy fiets en die ou man slaan neer, sak en al. Die toeskouers bars spottend uit van die lag en verroer nie ‘n vinger om die verleë oom van die pad af op te help nie. Die ou man se dankbare oë toe ek hom te hulp snel sal ek nooit vergeet nie. Die sak houtskool weeg meer as die oom en dit was nogal ‘n uitdaging om dit weer terug op die fiets te laai. Dis vreemd dat Afrikane so min passie het vir ander se leed of verleentheid. En dan praat hulle van ‘n renaissance, ai tog!
Quelimane is ‘n tipiese Oos Afrika hawestad, deurmekaar en besig maar baie interessant. Ons mik eintlik na Praia de Zalala – Praia is Portugees vir strand – maar spandeer ‘n paar uur in Quelimane om gas en kruideniers aan te koop. Ons sal nie gas in Mosambiek kry nie, word vir ons vertel. So ons sal moet bespaar, albei die bottels is nou al feitlik leeg. Met ‘n helse gesukkel ruil ek weer ZAR vir Meticas en verdwaal in die agterstrate van Quelimane oppad na Zalala. Na die 5e persoon se hulp kry ons rigting. Die smal teerpaadjie na Zalala is die slegste nóg in Mosambiek. Ons vleg deur fietse en allerhande vervoermiddels wat groente, vrugte, lewende varke en charcoal vervoer. Die 30 Km neem ons ‘n uur om af te lê, maar dis die moeite werd. Zalala is mooi, baie mooi maar verwaarloos en stil.
Agter die netjiese maar feitlik verlate hotel beduie die oppasser kan ons maar kamp in hul parkeerterrein. Dis feitlik op die strand. Weereens is die tekens daar van ‘n vroeëre infrastruktuur wat gesorg het vir heerlike vakansies in dié dorpie, maar dit was laaaank gelede. Ons word toegelaat om die staf van die hotel se ablusie te gebruik want ons is die enigste toeriste op die terrein. Toe ek heerlik staan en stof afspoel onder die stort hoor ek hoe ‘n 20 ton konstruksie trok met ‘n uitlaatpyp so dik soos ‘n rioolpyp agteruitstoot tot 2 meter vanaf ons idilliese kampplek! Ek droog af en hardloop feitlik sonder klere om te gaan keer. Wie wil nou 6 uur in die oggend wakkerskrik met ‘n dieselenjin wat 2 meter van jou ore raas en dieselgas in jou tent inblaas? Gelukkig is die bestuurder ‘n vriendelike ou en parkeer 50 meter verder onder ‘n paar dennebome. Sy spore is duidelik sigbaar op die foto van ons kampplek. Die aand stap ons na ‘n klein restaurantjie en sit rustig met ‘n glasie wyn en wag vir seekos wat ons bestel het.
Die vissermanne van Zalala is al lank voor sonop op die strand besig. Hulle vang honderde duisende sardientjies met groot nette, droog dit dan op die strand en verkoop aan die markte op groot skaal. Ná ons die vervalle dorpie verken het vertrek ons 10 uur en verwag ‘n mooi pad maar die ergste van die trip tref ons. Die eerste 60 Km oppad na Alto Molocue is onbeskryflik sleg maar verander dan skielik na ‘highway’ kwaliteit. Ons arriveer 16h30 by Molocue maar kry geen kampplek nie. Ons ry op en af deur die dorp, neem fotos en vra vir kampplek. Eindelik kamp ons in ‘n soort agterplaas van een van die ‘locals’. Die ou verhuur kamers en kry selde of ooit kampeerders en daarom bestaan daar nie ablusie vir kampeerders nie. Ons het darem ‘n tuinkraan met vars water onder ‘n groot boom naby ons en bad sommer met swemklere aan uit ‘n emmer. Teen sononder begin Erina ‘n heerlike pasta maak op die gasstofie en met ‘n whisky en ys, ‘n Amstel en lawaaierige inwoners in die straat maak ons die beste van die situasie.
‘n Tokeloshe, het ek gehoor, is ‘n onvriendelike klein wesentjie wat onverklaarbare dinge snags met Afrikane kan laat gebeur, gelukkig nie met witmense nie, het ek gehoor. Vieruur die oggend wonder ek of ek reg gehoor het want die mees onverklaarbare geluide kom van direk langs die Landie. Dis nog stikdonker en ons lê lank en wonder senuweeagtig wat dit kan wees. Ek skraap moed bymekaar en loer met my flits. ‘n Bonkige swart gestalte is besig om al die plante rondom die Landie met ‘n leë jamblik uit ‘n emmer, water te gee! Wat doen die man? Waarvoor doen hy dit nie bedags wanneer hy rondlê en niks het om te doen nie? Hulle het dalk ook waterbeperking soos ons in Hermanus? Na ‘n halfuur raak dit stil en ons draai om met die hoop op nog ‘n uur of twee se slaap. Ha ha, ‘Tokeloshe strikes again’. Die Landie begin heen en weer skud sonder ophou. “Wat nou weer?” vra Erina baie bedonnerd. Ek loer weer met die flits. Tokeloshe is besig om die Landie te was! Hy glimlag vir my met ‘n ry spierwit tande. Ons kon nie verder slaap nie en kruip brom brom 5 uur uit die koningsbed, laaaank voor sonop.
Ek het nooit Tokeloshe se naam gevra nie maar ons was nie toegelaat om te vertrek voordat ons sy fietstoertjies gesien en gewaardeer het nie. Erina moes hom uit alle hoeke fotografeer. Toe hy vra of hy nie ‘n betrekking by ons gastehuis in Hermanus kan losslaan nie het ek summier geweier, in Hermanus was ons nie karre 4h30 in die nag nie. Agterna oppad verder dink ek onwillekeurig daaraan dat sekere ouens wel in Hermanus, soos Tokeloshe, plante en grasperke snags water gee, onwettig boonop, nie met ‘n emmer en ‘n jamblik nie, met ‘n ‘hose pipe’.
Dit is hartseer om te sien hoe die eertydse geboue en huise regdeur hierdie Afrika Paradys verwoes is om sodoende die Portugese argitektuur en veral kultuur te probeer uitwis. Die Roomse katedrale en ander kerkgeboue het die plundery waarskynlik doelbewus vrygespring en is meestal ongeskonde. Molocue is ‘n voorbeeld van die Afrika vervalling. Die eertydse bankgebou is in die oorlogjare deur Frelimo feitlik verwoes en word nou deels gebruik as ’n informele mark deur die inwoners en ook deur die regerende party as advertensiebord vir die komende verkiesing. Ek koop ‘n paar gemakliker skoene van ‘n straatsmous en ons ry rustig verder na Ilha de Mocambique, ‘n eiland met ongelooflike geskiedenis oor slawerny en seerowery deur die 18e en 19e eeue.
Ilha de Mocambique is verbind met die vasteland met ‘n 3 Km smal enkelbaan brug. Ons kry ‘n kamplek op die strand waar die brug die vasteland ontmoet. Absoluut idillies, Miami se dinges. Ons het die wit strand, palmbome en ‘n nagwag maar geen ablusie of medekampeerders nie, ons is alleen ….of so het ons gedink……..
Twee uur die oggend breek ‘n hondegeveg uit langs die Landie. Ek loer uit en tel sewe reuns en een teef. Raai raai waaroor was die geveg? Die nagwag het beloof om ons en ons belange te beskerm en hy lê met ‘n kombers soos ‘n bergie onder ‘n stukkende tafel op die strand. Hy wend ‘n poging aan am die honde te verwilder maar dis net tydelik want ‘n hond het mos ‘n baie kort geheue. Binne vyftien minute is hulle terug en die prosedure word oor en oor herhaal tot die son oor die water verskyn. Wat ‘n nag!
Voor ons die eiland gaan verken ry ons eers deur die dorpie op die vasteland. Daar is mooi strande en ‘n splinternuwe hotel op die kus suid van die brug. Ons wil die hotel bekyk en vleg deur die informele woongebied in daardie rigting toe ‘n man wat lyk soos Eddie Murphy, sonbril en al, ons voorkeer en ‘n geleentheid vra na die strand waar hy werk as visserman. Hy sal sommer langs my deur op die trap staan sê hy. By sy werksplek aangekom sê hy nee, hy wil sommer nog ‘n ent saamry tot by die nuwe hotel. Die hotel het ‘n briljante ontwerp en is puik gemeubileer, gaan beslis ‘n toerisme bestemming word indien dit deeglik bemark word.
Ons start weer die Landie en begin terugry na die brug vir die eiland besoek. Eddie spring weer op die trap en nie lank nie klop hy aan die venster en beduie ek moet oopmaak. Ek maak op ‘n skrefie oop, groet hom en ry stadiger sodat hy kan afspring. Nee, sê hy, ons moet hom betaal want hy was ons toergids. Ek dag hy maak ‘n grap maar hy dring aan en weier om af te klim. Wel, dan skud ek hom af soos in die flieks, besluit ek. Ek swaai heen en weer en kies die rofste paaie maar Eddie klou vir al wat hy werd is. Erina raak benoud en ek besluit om teenaan ‘n paal verby te ry om hom te dwing om af te spring. Hy skree net “no! …” maar hy bly klou. Ek sien visioene van hoe ek en Erina soos slawe van ouds vasgeketting sit op die eiland indien ek hom beseer en swaai net voor die paal uit. Ek flits ligte vir die enigste voertuig wat van voor aangery kom, gelukkig ‘n man met een of ander soort uniform as passasier saam met ‘n privaat persoon. Toe hulle stilhou roep ek om hulp, Eddie spring af en verdwyn tussen die huisies. Ja, julle wil mos alleen daar gaan rondkarring, ons het julle gewaarsku dis moeilikheid soek, sal al my vriende sê. Maar dit was nogal lekker opwinding!
Die 3 Km brug oor die see na Ilha de Mocambique was ‘n belewenis en so ook die eiland. Mens het ongeveer drie dae nodig om alles te besoek en in te neem want die geskiedenis oor die verskillende volke wat die eiland oorheers het deur die eeue asook die slawerny daarmee gepaard is geweldig interessant. Vanaf die 11e eeu tot vandag is die eiland om die beurt deur Arabiere en Portugese geregeer met die Hollanders, Franse en Britte wat rondom die 17e eeu aanhoudend aanvalle geloods het om beheer oor te neem maar sonder sukses. Vanaf 1840 is Ilha de Mocambique verdeel in twee, Macuti Town in die Suide met ‘n tipiese Afrika invloed en Stone Built Town met die Europese inslag in die Noorde. Die kunsryke Portugese boustyl is duidelik nog sigbaar in Stone Town ten spyte van ernstige verwaarlosing. Die twee forte, St. Sebastiáo aan die Noorde en St. Lorenco aan die Suide vertel ‘n hartseer verhaal van slawerny en gruwelike skendings van menseregte oor ‘n tydperk van 2 eeue.
Nacala was ons volgende bestemming. Dis ‘n mooi dorp. Die Indiese Oseaan vorm ‘n baai wat soos ‘n vinger die vasteland indring om ‘n natuurlike hawe te vorm. Groot skepe vaar in en uit. Op die rif ontdek ons Libelula Lodge, ‘n klein maar baie mooi oord met ‘n uitsig oor die baai oppad na Fernáo Veloso. Hulle het chalets én kampering met ‘n strand wat jy nie kan glo nie. Besoek gerus hulle webblad. Erina kyk met verlangende oë na die gerieflike hout chalets maar ek sien dit nie raak nie, ons begroting laat dit nie toe nie. Daardie aand maak ons nie kos nie en bederf onsself met ‘n welkome swem in hul swembad en ‘n heerlike ete op die restaurant se stoep. Die eienaars is Ian, ‘n jong man van Engeland en P.J. sy vriendin van Suid Afrika. Die volgende oggend het ek ál ons waterkanne uitgespoel en volgemaak met helderskoon vars water uit hul boorgat. By Libelula Lodge kry gaste persoonlike aandag van twee baie vriendelike jongmense. Dit was een van die hoogtepunte van ons toer.
Vroegerig die volgende oggend maak ons kennis met Mike Donald en sy vriend Stuart by ‘n vulstasie. Mike is die eienaar van Kwalala Lodge naby Nacala. Ons was vanplan om teen die kus langs op te ry na Pemba wat sou beteken ons moet die Lurio rivier op een of ander manier oorsteek. Ek vra Mike uit oor die roete en toestand van die pad maar hy erken hy kan nie veel help nie. Mense vra hom dikwels oor die roete en hy sal graag wil hoor van ons indien ons dit oorleef het sodat hy dit vir sy gaste kan aanbeveel of nie. O, ons word dan nou verkenners of baanbrekers soos Livingstone en daai ouens? Moet iemand ons nie borg nie, wonder ek vinnig?
Erina wil eers ‘n draai maak by die mark. Soos altyd is dit baie kleurvol en interessant. Ons ry 8h30 uit Nacala en haal Memba na 2 ure. Memba is op die kus halfpad tussen Nacala en Pemba. Hoe mense nog in dié dorpie kan bestaan weet ek nie. ‘n Portugese familie sit op hulle verwaarloosde huis se stoep en naaldwerk doen. Ek vra hulle oor die pad verder. Hulle is seker die enigste Portugese wat nog hier woon en die oupa is ook die enigste wat bietjie Engels kan praat. “You go to Mazua and then you go past the river and then you go to Mecufi and then you go to Pemba”. Ek vra, “how do we cross the river?” “You go through the river! You have the right vehicle, you can do it”, sê hy. Dis duidelik dat hy baie meer respek het vir ‘n Land Rover as meeste van my goeie vriende. Wonder wat sou hy sê van ‘n Toyota of ‘n Isuzu of ‘n Pajero of een van daardie algemene soort voertuie?
Wel, ons ry toe deur Mazua na die rivier. In Mazua waarsku ‘n groep ‘locals’ ons ernstig, “don’t go there…. big trouble!” Maar ons druk deur en bereik die Lurio dorpie langs die rivier teen 4 uur. Ons spandeer bietjie tyd by hulle markie, meer om moed bymekaar te kry vir wat voorlê as vir enige ander rede. Toe ons teen die heuwel afry en die Lurio rivier sien stop ek summier en vergeet amper om asem te haal. Die rivier is 500 meter wyd en ons moet daar deur! Ons het al dikwels deur riviere en strome gery, meestal in Noord Namibië, maar ons het nie hierdie verwag nie. By die water ontmoet ‘n horde inwoners ons en almal, van jonk tot oud, tender om ons deur die rivier te lei. Dis ‘n geskree en geraas en elkeen wil gehoor word. Almal van hulle vang natuurlik van kleins af vis in die rivier en ken dit soos die palm van sy hand. Ek kies toe ‘n lenige jong visserman om ons te lei. Hy loop so val-val net soos Mathews Loop en Val Motswarateo, die langafstandatleet van destyds.
Die ander tenderaars het nou toeskouers geword. Hulle draai opgewonde alom die Landie en gee my skaars ruimte om die bande se druk te verminder na 0.8 (bar). Die effense senuagtige gevoel toe ons Loop en Val volg en die water binnery was dieselfde wat ek altyd ervaar tien minute voor ‘n groot konsert. Maar soos met ‘n konsert is daar nou nie meer omdraai nie, net vorentoe. Dit gaan goed. Die diepte wissel van 30 tot 90 cm en die gids weet presies waar om ons te lei. ‘n Groot voordeel is dat die water glashelder skoon is, elke klippie kan op die bodem gesien word. Na ongeveer 15 minute bereik ons die halfpadmerk, ‘n groot sandeiland waar ons stilhou om alles rondom ons in te neem. Die toeskouers is ook nog almal daar en dit begin my bekommer dat hulle dikwels die binnekant van die Landie beloer.
Loop en Val kom na ons met ‘n groot glimlag en beduie dat hy nou sy betaling moet kry voordat hy ons deur die laaste gedeelte lei. Omdat ons geen betalingsooreenkoms met hom gehad het nie was dit nogal ‘n lae hou. Hy is beslis nie die eerlike tipe Loop en Val wat ons ken nie. Ons sou hom definitief ‘n vrywillige fooi gee maar hy dring toe aan op betaling asof hierdie takie daagliks gebeur en hy sy brood en botter daarmee verdien terwyl die laaste voertuig seker drie maande laas hier deur is. Hy skryf 10000 Meticas met sy viger in die nat sand en hou sy hand uit! Ek dink hy het Erina se reaksie gesien en besef hy is in gevaar want toe ons hom 100 Meticas aanbied glimlag hy breed en neem die geld. En net daar weier hy om ons verder te lei! Wat ‘n skelm! Waarom het Piet Retief vir ‘n oomblik deur my gedagtes geflits? Ja, ons boere leer nie!
Loop en Val het egter nie ons troefkaart verwag nie. Erina klim uit, trek haar langbroek op en sê’ “volg my” en daar gaan sy. Al die toeskouers klim op die Landie en hang soos miere aan ‘n stukkie dryfhout. Hulle verdubbel amper die gewig en die risiko om dalk vas te val raak sommer baie groter. Hulle weier om af te spring, die pret is té groot, maar toe hulle die agterdeur oopmaak en gryp na ons voorraad strip my moer en ek pluk die pistool uit sy geheime bêreplek. Om hulle te sien terughardloop deur die water was baie groot pret, amper ‘n Israeliet en Egiptenaar situasie soos destyds by die Rooi See. Asof sy ook hier visvang van kleins af lei Erina ons met gemak tot oorkant. Plek plek het die water tot heuphoogte gestyg maar dan keer sy my betyds en soek ‘n ander roete. Eers lank ná ons terug is in die Kaap vertel ‘n vriendin wat lank daar gewoon het dat die Lurio rivier wemel van krokodille! Wow!
Aan die oorkant dag ons ons is veilig en kan maar rustig verder ry na Mecufi en dan Pemba maar ons kry geen pad nie. Ons ry op en af in die vlak water, daar is geen teken van ‘n pad nie. Die kaart wys dit so maar ek het gehoop daar sal dalk ‘n spoorpad wees, maar niks. Dit is ongeveer 16h45 en ons hou stil om ons situasie in oënskou te neem en ‘n vinnige besluit te maak. ‘n Gedreun van ‘n klein motorfiets in die bos laat ons opgewonde die ore spits. ‘n Man verskyn reg voor ons uit die baie digte bos op sy motorfiets en kan nie sy oë glo toe hy ‘n geel Land Rover sien waar hy altyd visvang nie. Hy verstaan gladnie wat ons hom probeer vra nie, ek het als probeer, vingertaal, lyftaal, fana galo en nog meer. “Mecufi?” se ek en probeer my gesig soos ‘n vraagteken laat lyk. Hy kliek dadelik, draai die motorfiets om en wink ons om hom te volg. Hy verdwyn terug in die bos.
Wat ons die volgende uur ervaar het is moeilik om te beskryf. Die ‘pad’ is ‘n twee voet wye voetpaadjie vir 30 Km deur digte bos na Mecufi. Ons weldoener moes dikwels stilhou en wag sodat ons ‘n ompad verby ‘n digte bos of omgevalle boomstompe kon vind. Halfpad na Mecufi verdwyn hy voor ons. Ek ry vinniger om in te haal maar val vas waar die voetpad deur ‘n digte bos gaan. Toe ons rondkyk vir ‘n ontsnaproete verskyn ‘n man met ‘n vlymskerp 50 cm panga langs ons. “OK”, sê ek vir Erina, “ons is in ‘n hinderlaag, hulle lei jou tot by hierdie punt, verdwyn dan en die pangaman beroof jou”. Net toe ons erg bang begin word wys hy ‘n ry spierwit tande soos hy glimlag en beduie ‘n wye draai om die bos met sy panga. Anderkant die bos wag die gids vir ons en wink weer om hom te volg. Mecufi verskyn soos uit die niet en ek omhels amper die eerste swart vrou wat langs haar hut staan en mielies stamp. Van Mecufi verder was die pad weer rybaar en ons arriveer ‘n uur na sononder by Pemba Dive & Bush Camp.
Pemba Dive & Bush Camp is ‘n oase, ‘n stil en rustige oord vir die moeë reisiger om te ontspan. Hier kan mens se liggaam en gees herstel. Die badkamers is mooi skoon met warmwater en toilette wat werk. Daar is ook ‘n gemeenskaplike braaiplek met ‘n kroeg waar ons heerlik gekuier het met lede van die SA Vloot wat op ‘n sending was om die Oos Afrika kuslyn te beskerm teen seerowery - kan jy glo, in die 21e eeu? Hul boot was gemeer in Pemba se internasionale hawe en die bemanning was toegelaat om aanwal te gaan.
In my Vloot jare 40 jaar gelede, het ons die Weskus gepatrolleer vir Russiese vissersbote wat vis kom roof het uit die Suid Afrikaanse gebiedswater. Ek sal dit nie gou vergeet nie want die meeste van die Rusiesse bemanningslede op die dek van ‘n paar bote wat deur ons voorgekeer was, was vroulik én bostukloos. Ongelukkig was daar vir hul duidelike aanborstigheid ‘n groot teenstellende gebrek aan tande toe hulle waai en glimlag. Ons boot, die S.A.S. President Kruger, moes ook dikwels by Saldanha en Walvisbaai vasmeer vir brandstof maar ons is nooit toegelaat om aanwal te gaan nie, net die offisiere. Na ‘n botsing met die S.A.S. Tafelberg lê die President Kruger nou diep onder die seeoppervlak ‘n paar seemyl Suid van Kaapstad.
Ons is 11 uur na ons koningsbed maar die Vlootmanne, wat ek uitgevind het toe ook almal offisiere was, kuier tot 2 uur. Geen wonder nie dat hulle die volgende oggend toe ons gereed was om te vertrek baie stil was. Ek sou graag nog ‘n dag of twee by Pemba Dive wou oorbly maar verpligtinge by ons twee gastehuise, Be My Guest Lodge in Blouberg en Braeview in Hermanus, het ons laat besluit om aan te stoot. Ek is vroeg op en gebruik ‘n uur om die Landie deeglik skoon te maak en die vorige dag se bosskade aan die daktent te herstel. Ons ry eers na die sakesentrum om gas te soek. Hulle verwys ons na ‘n gashandelaar langs die hawe maar dis wragtag ‘n vakansiedag en hulle is gesluit. In ‘n stil straatjie by die hawe hou ‘n algemene tipe 4X4, ek dink dit was ‘n Prado of so iets, langs ons stil en ‘n vriendelike dame sê in Afrikaans, “jy lyk na ‘n verdwaalde sanger, ons ken Pemba, kan ons help?” Hulle stel hulself voor as André en Annemarie, hulle doen sendingwerk in Palma feitlik op die Noordgrens van Mosambiek.
Nee, ons sal nie gas kry vandag nie maar ons moet hulle volg na ‘n baie interessante winkel. Die vriendelike dame agter die toonbank praat ook Afrikaans en vertel dat hulle feitlik net Suid Afrikaanse produkte aanhou. Dit was wonderlik om daar weg te ry met vars volroommelk, kaas, groente en vrugte. En sjokolade. Pempa was vir my nóg ‘n hoogtepunt.
By Macomia koop ek selfoon lugtyd en ontdek ‘n amper pap voorwiel. Ons word gestuur na die bande werkswinkel, ‘n halwe drom water langs die hoofstraat beman deur 3 jongmanne wat gereedstaan om te help. Toe ek agterkom hulle weet niks van wiele en bande nie neem ek maar leiding en gebruik van my eie gereedskap om die wiel af te haal vir ‘n watertoets. In die proses beskadig ek die yskas se smeltdraad en die yskas gaan staan botstil. Die pap wiel makeer toe niks, slegs ‘n klep wat gelek het vandat ek die wiele weer laat pomp het by Pemba. Maar ek spandeer nog ‘n uur aan tyd en ‘n astronomiese R7 aan arbeid by ‘n factotum wat op sy manier die elektriese probleem regsoldeer.
Mucojo het ‘n tipiese Mozambiekse strand met wit sand en palmbome. ‘n Duitse maatskappy bou ‘n baie mooi lodge met chalets en kampeerplek op die strand. Ons is die enigste gaste want die bouwerk is nog nie voltooi nie en hulle neem nog geen besprekings nie maar die vriendelike staf laat ons toe om naby die voltooide hoofgebou te kamp.
Mooi ablusie wat ongelukkig deur die werkers gebruik en bevark word. Jammer vir die kras beskrywing maar dis soos dit is. Die kamp kos ons R 90. Erina maak heerlike pasta en ons geniet dit na ‘n paar whiskys en brandys. ‘n Baie vriendelike Italianer, Emilio, sluit by ons aan. Hy is die werkskoördineerder van die konstruksiemaatskappy en is duidelik uitgehonger vir Westerse geselskap. Ons gesels oor alles, vanaf musiek tot konstruksie en maak ook ‘n draai by politiek. Skielik staan hy op en feitlik sonder ‘n naggroet verdwyn hy na sy kwartiere. Ons slaap rustig, dis windstil en gelukkig geen parende honde rondom ons nie!
Ná Emilio se skielike vertrek sê Erina sy sien uit na Tanzanië want sy is seker dis meer beskaafd en ‘upmarket’. Ek het Mosambiek geweldig geniet, seker maar die swerwers instink in my maar vir Erina was dit meer ‘n oorlewingstoer. Ons het Mosambiek ervaar as ‘n paradys met ‘n hartseer geskiedenis van verwoesting wat baie dekades nodig sal hê om te herstel indien ooit. Ons sal definitief hierdie paradys weer besoek en meer tyd spandeer op plekke wat ons geidentifiseer het.
Die volgende dag is ons Tanzanië in maar daar was geen teken van die ‘upmarket’ beskaafdheid waarna Erina uitgesien het nie, inteendeel!
Tanzanië - Land van kontraste en teleurstellings
Dis die 15e dag van die toer en dis duidelik Erina is nie meer dik van die lag nie. Ons is 6 uur die oggend wakker. Dis warm. Ons pak so gou moontlik want ons moet vandag ongeveer 300 Km binneland inry na Negomane om die grens oor te steek en dan weer 250 Km terug na die Tanzaniese kus waar die naaste goeie akkommodasie is. Ons het geweet dis meestal grondpad maar het nie ‘n idee gehad wat die toestand van die paaie sou wees nie. Wat Erina pla is dat ek eers vinnig wil stort voor ons vertrek. Alhoewel sy help pak doen ek meeste van die harde werk en is dan moeg en warm wanneer ons klaar gepak is en daarom my gestortery. Ons kom toe eers 8 uur weg en ek maak staat op die Landie se 2.5 liter enjin om ons so gou moontlik daar te kry.
Die magtige Rovuma rivier is die grens tussen Mosambiek en Tanzanië. Tot ongeveer 2005 was daar ‘n pont of vlot naby die riviermond wat mense en hul voertuie teen vergoeding heen en weer oor die rivier geneem het. Die pont bestaan nie meer nie, dit het gesink. Die ‘locals’ sien toe ‘n besigheidsgaping en neem desperate reisigers met voertuig en al oor die rivier op 3 kanoes wat aanmekaar gebind word met planke bo-op. Dit het gehou tot ongeveer 2010 toe dit ook gestaak is na ‘n paar duur 4X4s op die bodem beland het. Nou is die enigste oorgang die splinternuwe brug by Negomane, 300 Km binneland in. Die pad tot by Mueda is redelik goed maar verder tot by die grens is dit onbeskryflik sleg. Sekerlik die swakste grondpad in Mosambiek. Ons vorder teen ongeveer 60 Km/uur.
die padkaart die enigste hoop was vir akkommodasie. Ons vra hier en vra daar maar die dorpie is stil, almal slaap. ‘n Wag by die hospitaalhek, sonder ‘n AK47 dié keer, verander in ‘n Samaritaan en begelei ons na The Ocean Lodge, die enigste goeie hotel in die dorp en van pure moegheid neem ons hul laaste ‘honeymoon suite’ vir Ts150000 (Tanzaniese shilling). Omgereken is dit ongeveer R730. In ons luukse kamer skink ons ‘n middernagdop en Erina ontspan soos die Koningin van Skeba met ‘n yskoue whisky in die bad. Ons slaap sonder om te eet.
Om geld by ‘n bank te ruil vir die plaaslike geldeenheid is die beste, het ek geleer. Daar kry jy die beste koers en dit maak dit baie maklik om te betaal waar jy moet. Ek het so besluit toe ek Erina ‘n week vantevore by ‘n vulstasie in Quelimane, Mosambiek, moes agterlaat as pand om te gaan Meticas soek omdat hulle nie ZAR of $ wou neem nie. Dit is ‘n tydsame proses maar die moeite werd. Na ek die volgende oggend gou bank toe was ontmoet ek Erina by die hotel vir ‘n baie karige ontbyt, té karig sou ek eerder sê. Ek ontmoet die bestuurder, ‘n welopgevoede Tanzaniër wie se seun iewers in Suid Afrika rondswerf, amper ‘n verlore seun situasie. Hy verduidelik hoe hy na die seun verlang en wag dag na dag vir sy terugkeer. Hy verminder ons kamer se fooi na Ts 100000 omdat dit vir hom duidelik is ons is nie op ‘honeymoon’ nie! Lindi se strand is idillies mooi en die bouvalle van eertydse herehuise is tekens van die Portugese invloed deur die 19e en 20ste eeue.
Kilwa Masoko is maar 250 Km hoër op teen die kus maar ons vorder teen slegs 30 Km per uur met ‘n grondpad wat, soos oral in Tanzanië, deur die plaaslike motoriste en lorriebestuurders langs die teerpad oopgery is omdat die teerpad net eenvoudig te sleg is om verkeer te ontvang. Ons kry kampplek by Kilwa Ocean View Camp en kuier saam met ons enigste medekampeerders, ‘n paartjie uit Australië. Die kampering kos Ts 15000 (R65) en daar is geen warmwater nie. Die son sit nog redelik hoog en ek en Erina gebruik die tyd om klere te was. Dit word sommer vinnig droog aan ‘n tou wat ek tussen twee bome gespan het. Die vriendelike ontvangsdame reel dat die klere gestryk word en die volgende oggend is ons 8h15 gereed om te ry met skoon klere aan ons lywe, yippee!
By die ontvangs waar ons betaal kon Erina nie die mooi khangas weerstaan nie. ‘n Khanga is ‘n vierkantige lap wat die Tanzaniërs om hulle drapeer as kleding. So die kampering kos toe R20 meer, nog steeds ‘n winskoop! Die khangas is baie kleurvol en vertoon ongelooflik mooi by die informele winkels op straat. Dit wissel tussen helder rooi, oranje, geel, blou, groen en bont. Die mans dra meestal rooi en poseer graag vir fotos in hulle tradisionele drag.
Dis die 16e dag en ons is slegs 300 Km van Dar es Salaam af. Langs die pad hou ons weer stil by ‘n informele dorpie vir Tanzaniese selfoon lugtyd. ‘n Vriendelike jongman met ‘n pynlik netjiese roomkleurige pak klere staan nader om te help. Hy was regtig baie hulpvaardig en sommer gou-gou het ek ‘n nuwe simkaart en lugtyd. Maar toe nooi hy ons na sy ‘shop’. “I want to show you my shop”. Baie onwillig volg ek en Erina hom te voet die straat af. Ek vra hom toe watse ‘shop’ dit is. “I do wedding” sê hy. Sy roomkleurige pak klere wat so 2 nommers te groot was en sy lyftaal het my laat besluit hy is seker ‘n ou wat trouerituele in die omgewing reel. Ons kom by ‘n modderhuisie met ‘n klein afdak aan waar ‘n eienaardige instrument op die grond staan. “Welcome to my shop” sê roompak en beduie na die vreemde instrument. “This is my wedding machine”. Ek het al baie ‘wedding machines’ gesien in my lewe maar hierdie was iets nuuts vir my en ek was oortuig dat enige bruid dit ook anders voorgestel het. Met ‘n geoefende beweging gryp hy die gronddraad, haak dit aan ‘n ysterraamwerk bo sy kop en met die lewende draad begin hy sweis om sy vaardigheid te wys. Ek sê toe “Oh, you do welding!” “Yes, I do all the wedding in this town”.
Die pad verder was weer tipies Afrika standaard. Dit wissel tussen 2e rat en 4e rat maar ons haal lank voor sononder ons bestemming, Sunrise Beach Lodge, ongeveer 15 Km Suid van Dar Es Salaam. Dis ‘n baie mooi 4 ster lodge met mooi kampering feitlik op die strand. Twee Duitse ‘overlanders’ trek langs ons in en ons hardloop letterlik om eerste in die storte te wees. ‘Das Rollende Hotel’ was die trokke genoem en dit wemel van die Duitsers. Ek het heerlik geswem in die see wat net sowel ‘n groot dam kon wees. Toe ek teen skemer hout soek om ‘n worsie of iets te braai sê die oppasser dat ons nie toegelaat is om enige kos te maak nie, ons mag slegs in die restourant eet. Erina was natuurlik in haar noppies maar die ete was ver ondergemiddeld. Dankie nogtans vir James en Henriëtte van Hermanus vir die Sunrise Beach tip, dit was ten spyte van vuil toilette en geen warmwater nie een van die beter kampe op die toer tot dusver.
Moenie verbaas wees as jy jouself betrap dat jou mond oop hang wanneer jy deur Dar Es Salaam ry nie. Al die padtekens, strepe en verkeersligte is daar en baie duidelik sigbaar maar niemand steur hulle daaraan nie. Jy doen wat jy wil in die verkeer. Druk net aanhoudend die toeter, iemand sal jou hoor. Ons is nog steeds opsoek na gas vir ons Cadac bottels en dan het ons ook gehoor daar is ‘n Game, Shoprite en Mr. Price iewers in Dar waar ons eg Suid Afrikaanse produkte kan koop. Ons het die oggend begin met ‘n veerboot van Suid na Noord oor die baai na die stad. Dit neem ongeveer 15 minute en is geweldig interessant. Vyftig voertuie en honderde mense van verskillende kleure (en geure) op die boot.
Na ‘n uur van geweldige stres deur die verkeer bereik ons die parkeerterrein van Millemane Mall, ‘n tipiese Suid Afrikaanse ‘shopping mall’ met aldrie bogenoemde winkels. Te heerlik om deur rakke te stap wat alles het wat jy nodig het! Behalwe gas. Johnny Parsons kom stel homself voor by die vleisrak in Shoprite waar ons skaaptjops soek. “Kom jy sing of is dit vakansie?” Johnny verduidelik hy werk vir Shanta Gold Mining Co. en is eintlik van Klerksdorp, vêr in die ou Transvaal. Dis mos Sarie Marais se wêreld?! Johnny het hom ontferm oor ons en geweldig baie gehelp. Toe hy hoor ons soek gas neem hy ons terug deur die sirkus verkeer na ‘n Indiër wie se naam en adres ons gekry het van die Australiërs by Kilwa Ocean View Camp. Vir een of ander rede wil die Swahili werkers by die gasdepot nie vir my gas gee nie maar die Indiese eienaar gee húlle toe gas oor hulle onwilligheid en toe eers kry ek my gas, yippee!! Terug by die mall stick Johnny ons ‘n wortelkoek en koeldrank. Ons groet Voortrekkerstyl en vertrek na Bagamoyo.
Die geskiedenis rondom slawerny in Bagamoyo is ongelooflik interessant. Bagamoyo was die episentrum van slawerny op die Ooskus van Afrika. Meeste slawe wat aangekeer was in die binneland was hier verkoop aan die Arabiere en die Midde Oosterse nasies. Later ook aan die Portugese, Britte en Amerikaners. Die wrede tekens van aanhouding en onmenslikheid is nog daar. Die afstammelinge van eertydse slawe asook slawehandelaars woon nog steeds in die dorp en daar is dikwels spanning tussen die twee groepe.
Ons geniet die kampplek by Traveller’s Lodge want dis baie mooi en ons eet by hul restaurant die aand. Die volgende oggend is ons 6h30 op en pak redelik vinnig. Ons was maar bra onwillig om die mooi kamp met die groen grasperke en lodge te verlaat maar die verkenningsreis deur die dorp het opgemaak daarvoor. Ons volgende bestemming, Lushoto, was nie te ver nie en ons dwaal rond tussen die winkeltjies in die mark. Daarna na die slawemuseum waar mens nie sommer wegkom as jy eers begin lees en fotos en sketse bestudeer nie.
Ons was baie verlig toe ons die hoofpad bereik by Msata ná die patetiese stuk pad vanaf Bagamoyo. Ek moes dit verwag het want die kaart wys dit so. Ek het vergeet om diesel aan te vul by Dar of Bagamoyo en hoop om Segera te haal maar ongeveer 50 Km voor Segera was ek verplig om diesel oor te tap vanuit die 2 gerrykanne op die dak. Erina is weereens gladnie dik van die lag nie maar sy help mooi, behalwe dat sy die suigpyp nie gou genoeg in die tenk se inlaat kry nie en ‘n halwe liter diesel op my voete mors!! Na die oortapping maak ek als skoon en bêre. Ons ry verder met 39.5 liter diesel in die tenk, ‘n sterk dieselreuk in die kar en ‘n glimlag wat nie lank gehou het nie want net voor Mombo word ek gevang vir spoed en moes daar en dan 50000 Ts (R250) in kontant betaal. Ek moés net eenvoudig ‘n foto neem van die situasie maar toe ek dít doen dreig die twee slapgat polisiemanne om my kamera te konfiskeer. Na ‘n hewige argument laat hulle my toe gaan.
By Mombo wys die petroljoggie my dat daar geen prop vir die tenk is nie. Ek het wragtag vergeet om die prop terug te skroef. Gelukkig het Erina diesel op my skoene gemors wat ek toe kon gebruik as ‘n alibi vir my agterlosigheid. Om my irritasie verder te verhoog sê die joggie, nadat hy die tenk halfvol gemaak het, hy neem nie $ nie. Ek gaan soek inspirasie by Erina wat sit en boek lees asof alles normaal verloop. “Los net asseblief die boek vir ‘n rukkie!” “Man, jy is die oorsaak van jou eie moeilikheid, moenie jou probleme myne maak nie” en sy lees verder. Die garage eienaar neem toe uiteindelik dollars maar maak ’n helse wins met die transaksie. ‘n Jong Indiër, Ebrahim, ontferm hom oor my met my dieselprop probleem en hardloop saam met my na die enigste onderdele handelaar op die dorp maar ons kry geen Land Rover prop nie. “Don’t worry sir, I’ll make you one” en baie onwillig gee ek hom ‘n 50% deposito van R40. Ons swaai nou Noord na die berge vir slaapplek en sal die prop moreoggend by hom kry met die terugkomslag.
Lushoto is ‘n kleurvolle klein dorpie hoog in die skilderagtige Usambara bergreeks. Ons moet daardeur na Irente Farm Lodge nog hoër op. Daar is, volgens info vanaf die internet, ‘n kampplek met ‘n uitsig oor Afrika. Lushoto was amper die hoofstad van Tanzanië, of liewer die eertydse Tanganyika, in die tyd van die Duitse oorheersing van die land. Die hoofstad was inderdaad Bagamoyo, toe later Dar es Salaam en huidiglik Dodoma in die sentraal Suide. Die pad kronkel hoog die berge in na Lushoto. Ons ry voorspoedig maar haal Irente eers kort voor sononder.
Met die uitsig oor Afrika was die internet amper reg maar met die kampering ver verkeerd, daar is nie kampplek nie! Maar die vriendelike staf van Irente Lodge beduie ons moet sommer op die parkeerterrein naby die hotel se voordeur kamp en ons maak toe net so. Ons was weereens die enigste gaste op die perseel en het die hele staf en al die hotelgeriewe tot ons beskikking gehad. Daardie aand eet ons soos koning en koningin by kerslig met 3 kelners wat ons bedien. Die kerslig was nie beplan nie, die hoteleienaars kon nie die kragrekening betaal nie, beduie die staf. Dit het ons niks gepla nie, ons het ‘n onvergeetlike aand gehad en die kelners het elkeen ‘n handige fooi gekry.
Die uitsig vanaf ons kampplek vergelyk goed met dié van Blyderivier, die wolke is ‘n honderd meter onder ons, ongelooflik. Ons pak onwillig en ry rustig terug deur Lushoto na Mombo en die hoofpad. By Lushoto hou ek stil vir ‘n foto of twee en Erina wil natuurlik weer, tussen die boeklesery, die markies inhardloop. Ek sien ‘n ‘spares’ winkel en stap in asof daar ten miste 10 Land Rover proppe op die rak gaan wees. Wel, ek was naby reg, daar was 3 en toe Erina terugkom van die markie is daar ‘n splinternuwe R20 prop op die tenk.
Van Lushoto is dit afdaand na Mombo. Ek het skoon vergeet van Ebrahim met die prop in Mombo. Toe ek stadig die dorp inry staan hy in die middel van die pad en waai met ‘n groot glimlag op sy gesig en ‘n rubberprop in sy hand. Ek hou stil. Hy wys my baie trots die skewe stuk rubber wat hy gesny het uit ‘n trok se buiteband. Ek was absoluut oortuig daarvan dat die tenk méér sou mors mét Ebrahim se prop as daarsonder. Baie diplomaties probeer ek hom vertel dat ek ‘n nuwe prop gekry het en nie meer syne sal benodig nie en daar bars hy in trane uit! “Please sir, you can’t do that. You are taking the food from my family’s mouth”. Ek kry hom só jammer en druk dadelik die balans van die kontrakprys in sy hand. Ons ry uit Mombo met Ebrahim verwese in my truspieël. Die land se mense is baie arm.
Ons vorder vinnig deur Same, Mwanga, Moshi en Arusha. Ons tweede seun, Francois, het ses maande vroeër Kilimanjaro geklim. By Moshi stuur hy ‘n SMS en wil weet of ons al Kili kan sien. Ons kon nie want dit was oorwegend bewolk en die berg was gladnie sigbaar nie. Teleurgesteld staar ons in die rigting van Kili en ry toe maar aan. 30 Km verder sien ek toevallig in die kantspieël dat die wolke oopgemaak het en die spierwit kruin steek bo uit. Die foto wat ek geneem het wys skaars die piek maar ons het dit gesien!
Mto Wa Mbu is die dorpie waar almal oornag voordat daar in Ngorongoro en Serengeti ingery word. Ons vind Twiga Camp sommer gou gou in die hoofpad en besluit om 2 dae te bly om ‘n baie nodige wasdag en rusdag in te pas. Daar’s ‘n heerlike swembad ook en ons maak goed gebruik daarvan terwyl die wasgoed die volgende dag op die draad hang. Die eerste aand het ‘n kok van ‘n raserige ‘Overlander’ groep sy orige braaikole vir my geskenk. Ons het heerlik op die grasperk langs die Landie uitgespan met ‘n whisky en ‘n Amstel. Tussen die wasgoed en die swemmery die volgende oggend het ons ‘n draai gemaak by ‘n Masai kraal waar ‘n ou tannie van oor die 100 jaar haar krale en ringe met Erina s’n vergelyk het. Ons het ook die ‘mechanic’ van die dorp in aksie gesien waar hy ‘n enjin ‘overall’ op die sypaadjie. Raar maar waar!
Dis die 22ste dag van ons toer. Vandag moet ons deur Ngorongoro na Serengeti en so ver moontlik Noord ry in die park waar die meeste diere op die oomblik sal wees. Dalk is ons gelukkig om te sien hoe die duisende diere ‘n rivier oorsteek, so ons vertrek vroeg uit Mto Wa Mbu. Ons was voorbereid op die buitensporige hoë toegangsgeld by hierdie twee nasionale parke maar dit het nog steeds seergemaak om dit te betaal. En jy moét deur die eerste een ry om by die tweede te kom. By die ingang van Ngorongoro betaal ons $160 en ‘n paar uur later weer $200 by Serengeti. Saam is dit ongeveer R3500 !!! En dis slegs vir 24 uur. Indien jy 24 uur oorskry betaal jy weer R1600.
Al die diere wat op die twee parke se vlaktes wei het ons ‘n oorvloed van is Suid Afrika. Ek het besluit om Serengeti te besoek met die hoop om ‘n migrasie oor die Grometi of Masai riviere te beleef, om geen ander rede nie. Daarom besluit ons om nie in die Ngorongoro Krater af te ry na onder nie. Ons het geweldig baie diere deur die verkyker gesien rondbeweeg op die vloer van die krater en die versoeking was groot om ondertoe te ry maar dit sou beteken nog 24 uur, so ry ons toe maar aan. Ek en Erina het eenparig besluit dat die pad tussen Ngorongoro en Serengeti dié slegste pad is in Tanzanië. As jou voertuig hierdie toets slaag het jy ‘n uitnemende voertuig.
By die ingang na Serengeti mors mens baie tyd. Die staf is traag en doen nie juis moeite om die geweldige opeenhoping van toeriste vinnig te verwerk nie. Dit neem ongeveer 40 minute om die administrasie af te handel. Die pad verder na Seronera Kamp is geen verbetering nie en die landskap is ‘boring’. Geen lewe nie, net plat droeë grasvlaktes en stof, geweldig baie stof. Dis onbegryplik dat die paaie duidelik vir ten minste 5 jaar nie opgegradeer was nie terwyl miljoene en miljoene dollar by die ingange versamel word. Net buite die park kripeer die mense van ellende, hulle is so maer en ondervoed dat elke ribbeen gesien kan word. Hoe sê Victor Matfield? ‘Awsome’!
Vanaf Seronera swaai ons Noord na Lobo waar ons wil kamp. Die landskap verander en word meer aanvaarbaar met meer gras en selfs bome. Nog steeds naby Seronera sien ons ’n horde seekoeie in ‘n poel. Verder Noord sien ons meer en meer Blouwildebees en Zebra. Later word dit duisende maar duidelik met geen planne om enigsins iewers heen te migreer nie, hulle dwaal doelloos rond, vreet bietjie hier en vreet bietjie daar. Ons haal Lobo Kamp redelik vroeg en slaan kamp op. Daar is skoon ablusie en ons stort heerlik toe die son nog redelik hoog sit. Ek pak die tafeltjies en stoele op die gras uit en terwyl ‘n paar buffels rustig verby beweeg ontspan ons heerlik met ‘n whisky en ‘n ……… …….Black Label, ha- ha, my Amstel voorraad het uiteindelik opgeraak en ek kon nêrens aanvul nie. Ons ontmoet Sakkie en Nico van Nelspruit, twee gawe manne. Hulle het ‘n Land Rover gehuur vir ‘n paar dae vakansie in Tanzanië. Daardie aand braai ons lekker saam en gesels land en sand. Vroegerig is ons na ons koningsbed want ons tyd verstryk die volgende dag 13h30 en ons moet nog probeer by ‘n rivier uitkom vir die migrasie.
Ek het nooit geweet buffels brul soos leeus nie. Van 4 uur die volgende oggend brul hulle al om die kamp. Ons is vroeg gereed om te ry. Sakkie en Nico is al weg maar ons loop hulle weer raak waar ons saam met baie toeriste op en af deur die park ry opsoek na die Grometi Rivier waar alles veronderstel is om te gebeur. Niemand weet waar die Grometi Rivier nie, nie eers die toergidse wat ons vra nie. Ons sien ‘n trop leeus wat lê en ontspan, seker dik gevreet want hulle beweeg nie eers nie. Daar is nog voertuie met opgeleide toergidse. Ons vra waar die migrasie gebeur en of hulle weet waar die Grometi is. Niemand weet nie. Nico en Sakkie ontdek toe die rivier wat kurkdroog is en ons besluit om saam met hulle op ‘n spoorpad langs die rivier te ry in ‘n Westelike rigting met die hoop om iets te sien voor ons oor 2 ure die park moet verlaat. Al wat ons sien is duisende blouwildebees, zebra en ander wild wat nie genoeg gras kan vreet nie. Moedeloos groet ons vir Sakkie en Nico en draai om om die park te verlaat deur Kleins Gate op die Noord Oostelike grens net onder die Masai rivier. Ons het die migrasie gemis. Ons sal weer moet gaan.
Kan ‘n pad nog slegter raak as dié binne Serengeti? Dit kan! Vanaf Kleins Gate na Lake Natron is dit nie verder as 3e rat nie. Ons mik vir die meer want James en Andriëtte het genoem van ’n mooi kampplek op die meer se oewer. Ons haal Natron 10 minute voor sononder. Die omgewing is woestynagtig, amper soos ‘n maanlandskap na al die vulkaan uitbarstings deur die eeue. Maar die kamp is soos ‘n oase. Nie baie skoon nie maar ons is teen die tyd al gekondisioneer, ons het baie slegter gesien. Ons kamp tussen Afrikaan toergidse en donkies wat deur die kamp wei. Die kamp het ‘n halfvol swembad waar ons heerlik afgekoel het en was vanplan om iets die aand te gaan eet in hul ondergemiddelde restaurant maar die pryse op die spyskaart het ons teruggedryf kamp toe waar ons self iets voorberei het.
Erina het hier begin moeg raak, ek kon dit sien. Ek was self half moedeloos ná die Serengeti teleurstelling en ons besluit om so gou moontlik uit Tanzanië te kom. Tanzanië is totaal ‘over rated’ besluit ons. Vanaf die paaie, die diens, die pryse en sommer als. Ongelukkig moet ons regdeur die land van Noord na Suid ry om by Malawi te kom en dit is meer as 1400 Km. Volgens die kaart is die pad nie baie goed nie maar vir enigeen wat hierdie pad nog nie gery het nie, wees gewaarsku, behalwe dat jou voertuig tot die uiterste beproef word het jy ‘n groot hoeveelheid deursettingsvermoë nodig. Daarsonder moet jy dit nie doen nie! Die eerste dag ná Lake Natron ry ons die 700 Km grondpad na Dodoma teen ‘n gemiddeld van 50 Km per uur. Dodoma is die hoofstad van Tanzanië.
Halfpad tussen Natron en Mto Wa Mbu, waardeur ons weer moes ry, kom ons op ‘n groepie brandmaer kinders af langs die pad. Hulle skree vir iets om te eet toe ons verbyry en ek stop. Ek kan gladnie sien hoe enige persoon in hierdie verlate maanlandskap kan bestaan nie. Op ‘n stadium het ons oor ‘n helder waterstroom gery wat duidelik hulle behoud is maar verder is daar niks! Erina gee ‘n halwe pakkie Salticrax beskuitjies met die bedoeling dat ek dit deur die venster aan hulle sal gee. Ek besluit om dit ordelik te doen, ek gaan uitklim en elkeen se beskuitjie vir hom in sy hand gee. Ha-ha. Ek was nog besig om die deur agter my toe te maak toe hulle my aanrand vir die Salticrax. Hulle het my heeltemal onverwags gevang. Ek probeer hulle wegstamp om orde te skep maar hulle is oral om en bo-op my, soos apies. Hulle gryp die pakkie maar dit val in die stof. Dit breek stukkend en elkeen probeer ‘n stukkie gryp. ‘n Paar kry niks en duik grond toe om die krummels met sand en al te eet. ‘n Ervaring wat ek nooit sal vergeet nie.
Daar is nie veel te sê oor die pad na die Suide nie. Daar gaan nie veel aan nie en dit is basies ‘n baie swak grondpad wat die ongeveer 1400 Km verbindingsroete is tussen Noord en Suid. Dit sou seker wys gewees het om by Tarangire Nasionale Park te oornag maar ons ken toe mos al die Nasionale Parke se fooie in Tanzanië en besluit om deur te druk. Teen 20h30 die aand en 700 Km verder bereik ons Dodoma. Die laaste 80 Km het ons sonder ligte gery, die skakelaar het finaal ingegee. Ons het slegs parkeerliggies en moet die waarskuwingsligte laat flits wanneer ‘n voertuig van voor of agter aankom. Dit was baie senutergend en toe ons ‘n hotel se ligte en naambord op die hoofpad sien ry ons summier in en bespreek ‘n luukse kamer. Tien minute later lê Erina die tweede keer op die toer soos die Koningin van Skeba in ‘n heerlike warm bad en ek gaan bespreek vir ons ‘n aandete by die ontvangs. Weereens is ons die enigste gaste en sit alleen in die eetsaal vir aandete. Die staf is geweldig vriendelik en dra ons op die hande, iets wat veral Erina baie geniet het.
Die Twiga Hotel se eienaar is fyn opgevoed en baie bekwaam. Hy gesels land en sand die volgende oggend. Wat hom erg pla, sê hy, is dat die ‘Great North Road’, die pad vanaf Kaapstad na Kaïro, reg voor sy hotel verbyloop en nie geteer is nie. Hy sê die pad is deur al die ander lande ten minste geteer maar deur Tanzanië ry jy 1400 Km grondpad voor dit weer Noord of Suid aansluit by mooi teerpaaie. Ek kan nie genoeg saamstem nie en met daardie akkoord vertrek ons verder Suid. Iemand het ons gesê die grondpad is feitlik op ‘n einde maar nog 300 Km van skud was vir ons bestem. Die laaste 100 Km het my laat terugdink toe ek ewe windgat op die ouderdom van 48 jaar, sonder enige oefening, vir ‘n 10 km pretdraf ingeskryf het. Die laaste 2 Km het ek afgeskakel soos ‘n ‘zombie’ en weet tot vandag nog nie hoe ek by die eindpunt beland het nie. So ook met hierdie pad.
Vyf kilometer voor ons Iringa binnery eindig die grondpad eindelik. Dank die Vader. Die Ruaha Rivier was maklik om op te spoor en net voor sononder ry ons die Ruaha River Camp binne. Heerlike groen gras met warmwaterstorte en braaigeriewe. Die staf bring genoeg hout vir ‘n lekker groot vuur. Dit was ons laaste kamp in Tanzanië en ons maak die beste daarvan.
Die volgende dag ry ons om die grenspos te haal by Kyela, Suid van Mbeya. Die pad is mooi vanaf Iringa, gladde teeroppervlakte tot by die grens. Die landskap raak mooier hoe verder ons vorder. Vanaf Mbeya tot die Malawiese grens is dit prentjiemooi. Tee en rubberplantasies vir kilometers sonder ophou. Die kinders verkoop selfgemaakte opblaas rubberballe langs die pad. Die Landie se lugreëlaar het opgehou werk en dis bedompig en warm
Tanzanië is ‘n land met geweldige kontraste . Van asemrowende mooi tropiese landskappe met berge en woude tot geweldige droë, woestynagtige streke waar mense sukkel om te oorleef. Die gemaklike elite leun swaar op toerisme waaruit geld ooglopend vloei. Tipies Afrika styl weet niemand presies waarheen hierdie stroom vloei nie, dit verdwyn iewers in die sand soos die Okavango Rivier in die Delta. Terwyl toeriste astronomiese toegangsfooie by die Nasionale Parke betaal kripeer die mense direk buite die parke van honger en ellende. Die gaping tussen arm en ryk is selfs groter as in Suid Afrika. Die veelbesproke Serengeti was vir ons ‘n groot teleurstelling, heel moontlik omdat ons al soortgelyk gesien en beleef het in Zimbabwe en ander omliggende lande. Dalk het ons te veel verwag na aanleiding van die wanvoorstelling op die Natgeo TV programme waar hulle slegs die interessante hoogtepunte wys.
Die land kan opgesom word as ‘n toets van karakter, deursettingsvermoë, geloof en finansies soos voorheen genoem. Nie net vir toeriste nie, ook vir meeste van sy inwoners. ‘n Land waar die infrastruktuur wat hulle geerf het uit die koloniale era opgebruik word sonder om dit in stand te hou of te verbeter, die modus operandi van meeste Sentraal Afrika state. Ons sal dié land dalk weer besoek, hopelik met ‘n vetter beursie.
Malawi – Rip van Winkel se Geboorteland
Die Malawiese grenspos is vertraag, baie stadig. Die beamptes is deurmekaar en blykbaar doelbewus belangeloos. Terwyl ek sukkel met paspoorte, heffings en so aan ontmoet Erina ‘n paar jongmense van Engeland. Ron, Pete, James, Jenny, Rachel en nog ‘n Pete. Hulle toer met 3 voertuie, 2 Land Rovers en nog ’n algemene voertuig, dink dit was ‘n Toyota of so iets, vanaf Londen na Kaapstad. Hulle toer is beplan vir 6 maande waarvan 3 toe reeds verby is. Die Engelse was baie ontspanne en het tyd aan hulle kant gehad. As hulle van ‘n plek hou bly hulle sommer ‘n paar dae langer. Hulle wil alles weet van ons toer en kan nie glo dat ons alleen toer nie. Ons almal wil graag die Malawi meer haal voor sononder en Ron stel toe voor dat ons in ‘n konfooi ry om ons te akkommodeer omdat ons nie ligte het nie en die donker kom aan.
Ons vertrek toe die son laag lê en die Engelse is gladnie bang vir spoed nie. Die omgewing is baie mooi, ons geniet elke oomblik daarvan ná Tanzanië se maanlandskappe in die Noorde. Die donker oorval ons 30 Km voor ons die meer bereik maar met die Britte se hulp kom ons veilig aan by Chitimba Camp. Dit was werklik ’n mooi kamp. Skoon sand en mooi groot bome met ‘n goeie restaurant, netjiese ablusie en …….warmwater! Ons besluit om 2 nagte te slaap om te herstel van die laaste 3 dae in Tanzanië en ook natuurlik om die ligskakelaar te probeer herstel.
Die wind waai dat dit bars en ons draai die tent se opening weg van die wind. Daardie aand voel ons soos ryk Europese toeriste en eet heerlik in die restourant. Die ete was baie gemiddeld en duur. Die geselskap het vergoed daarvoor, dit was goed om weer met Westerlinge te gesels. Die Britte en ook ander toeriste het by ons aangesluit en lekker gekuier. Dit het min of meer die hele nag gereën. Die volgende dag was bewolk en koud met ‘n sterk Oostewind oor die water. Erina besluit om klere te was en ek besluit om die ligskakelaar probleem aan te pak.
Ek is baie prakties aangelê en het genoeg ondervinding om meeste meganiese probleme van ‘n voertuig te kan herstel maar van die bedrading en elektronika weet en niks. Ná tee en beskuit vroeg die oggend maak ek die enjinkap oop en probeer my bes om intelligent en ingelig te lyk toe ek die bedrading ondersoek. Toe ek ná vyf minute nog steeds net kyk en nog niks doen nie besluit twee van die Britte, Pete en James, om te kom help.
“Farney, can we help you solve your lighting problem?”
“Yes, of course, as you can see, I don’t even know where to start. Do you have experience? Do you know about the wiring of a Land Rover?”
“We both work on the Land Rover assembly plant back in London, so don’t worry, we’ll sort it out”.
Elke nou en dan is dit tussen my en Erina gesê dat Die Here ons Beskermer op hierdie toer is en hier was nou ‘n tasbare bewys, wow!
Pete besluit toe om alleen die probleem aan te pak en James gaan saam met die res om Livingstonia, ‘n geskiedkundige sendingstasie teen die berg, te bekyk. Die volgende 2 ure het ek ‘n kenner van sy vak in aksie gesien. Een van hulle Land Rovers is ingerig as ‘n werkswinkel met alle gereedskap wat mens kan nodig kry op so ‘n reis, vanaf ‘wedding’ gereedskap (he he) tot elektroniese toerusting om meer gekompliseerde foute te diagnoseer en te herstel. Hy verduidelik dat die werkswinkel in Hermanus ‘n kortpad geneem het met die koppeling van die kolligte (spotlights) deur dit direk aan die kopligte se skakelaar te koppel. Die hitte van die elektriese stroom het toe die skakelaar wat meestal uit plastiek bestaan, laat smelt. Toe Pete klaar is en terugstaan het ons weer ligte met ‘n skakelaar wat gehou het vir maande daarna. Yippee!!
Die res van die dag verken ons die strand en omgewing. Ten spyte van die sterk wind het ons heerlik geswem en vêr op die strand gestap. Die middag het Erina boek gelees en ek het kaarte bestudeer en die reisplan hier en daar aangepas. Ons het oorspronklik beplan om twee dae in Botswana by die Delta oor te bly maar besluit toe om dit te kanselleer en meer tyd in Zambië te spandeer.
Die aand wil ons nie in die sterk wind braai nie en stap weer restaurant toe. Die eienaars, Eddie en Carmen Peters (uitgespreek Peeters, want hulle is van Holland) kom sit by ons aan tafel. Ons gesels oor alles wat ons in gemeen het, vanaf Holland na Suid Afrika en vanaf ons voorouers tot die hede. Ek het gedink omdat ons voorouers die gemene deler was sou hulle Hollands met ons praat maar hulle gee voor, soos meeste Hollanders wat Braeview Guesthouse en ook Be My Guest Lodge besoek, dat Engels hul huistaal is en hulle ploeter so voort. Vreemd. Maar hulle is ten spyte baie gawe mense. Ná ete nooi die Britte ons vir nagereg, pannekoek wat hulle self bak, amper net so lekker soos dié van die twee dames in die karavaan by Gansbaai op ‘n Saterdagoggend. Ek het skaamteloos drie pannekoeke binne drie minute geëet en later toe ek dink hulle sien my nie, nog een. So ek het vier gehad, so what?
Soos met baie van ons sogenaamde eg Afrikaanse volksliedjies wat eintlik nié so eg Afrikaans is nie, het die pannekoek episode ook my wenkbroue laat lig. Ek was al die jare onder die indruk dat pannekoek ‘n eg Afrikaanse dis was. Nee! Hier bak die drie jong Britse seuns vir ons top gehalte pannekoek met suiker en kaneel en al. Ja, sê hulle, die resep kom van hul ouers en voorouers en word deur die geslagte oorgedra. Tel twee en twee bymekaar dan besef jy die pannekoek resep, en natuurlik heelwat ander ook, het saam met die Britse Settelaars of Britse Anglo Boereoorlogsoldate hierheen gekom. Dank die Vader dit het wel hier beland! Van ons ‘Afrikaanse’ liedjies wat dieselfde pad geloop het is onder andere Die Oukraalliedjie en Taraboemdery en so is daar sekerlik heelwat meer. Ek kan onthou hoe ons skoolkoor in 1965 Die Oukraalliedjie in stemme geleer sing het. Ons wetenskap onnie, Mnr. Chris Cronje, het ons afgerig. Dit was baie jare voor Groep 2 die liedjie geleer sing het. OK, ek het bietjie afgewyk.
Die Britte is vroeg weg die volgende oggend. Dis die 27e dag van ons toer en die wind waai ongelukkig nog sterk. Ons pak so vinnig soos die wind ons toelaat en kom eers 9h30 weg. Die pad swaai weg van die meer na die berge en Mzuzu, ‘n baie groot dorp, die besigheids spilpunt in die Noorde van Malawi. Die kaart wys vulstasies oppad na Mzuzu wat nie bestaan nie en ons moet wragtag weer diesel oortap. Erina is weereens nie dik van die lag nie. By Mzuzu word ons verwys na Peoples, Metro en Chituku. Hierdie drie winkelgroepe is oral in Malawi sigbaar en hou voorraad van feitlik als wat ‘n toeris nodig het. Ons plan was om by Nkotakota Wildreservaat te oornag maar spandeer toe te veel tyd met die inkopies en vorder net tot by Kande Beach Resort Suid van Nkata. Ná Erina se heerlike hoenderkerrie die aand word ons vir ‘n glasie wyn deur die Britte genooi wat weer toevallig naby ons kamp. Die aand eindig met ‘n Fanie konsert. Ek moes een na die ander tradisionele Engelse lied sing en het later gevoel soos ‘n Engelsman. Ek wonder of hulle Die Oukraalliedjie sou herken?
Daar is een gemeenskaplike en baie groot irritasie vir meeste toeriste met eie vervoer deur Afrika en dit is die verskyning van meer en meer ‘Overlanders’. Dit is busse of lorries wat ingerig word as goedkoop hotelle op wiele met beknopte slaapplek en kookgeriewe vir ongeveer 20 toeriste, gewoonlik Europiëers. Langs ons kamp by Sunrise Beach in Tanzanië was twee van die ondraaglike hotelbusse, nogal in Duits genoem “Das Rollende Hotel”. Hierdie toeriste, en veral hul toerleiers, wat ook die taak het om kos voor te berei, toon eenvoudig geen respek teenoor medetoeriste nie. Hulle raas tot laatnag en begin dikwels weer 5 uur soggens vuur maak en skottelgoed was. Ons het gou geleer om nie naby hulle kamp te maak nie maar dikwels het jy geen keuse nie, hulle maak kamp langs jou!
Die hele nag hier by Kande moes ons na die ‘overlanders’ se lawaai luister en asof dit nie genoeg was nie het die sekuriteitswagte van die kamp tien meter van ons kom sit en probeer om familiesake of politieke probleme in diepte te bespreek met die hulp van ‘n bottel Gin vir meer insig. Hoe verder die nag vorder hoe meer besef ons dat wát hulle ookal probeer oplos nooit gaan gebeur nie want die tonge begin erg sleep en die lawaai word net al harder. Teen 4 uur die oggeng moes ek noodgedwonge die bestuur gaan wakkerklop (meer gedink aan wakkerklap) om die politieke vergadering te laat uitstel na ‘n latere datum. ‘n Uur later het die overlanders begin skottelgoed was. Die ‘overlanders’ probleem het ons geteister tot in Namibië.
Die volgende dag wou ons vorder tot Monkey Bay maar die donker oorval ons en ons draai af na Senga Bay. Ons beland in ‘n baie gerieflike en mooi kamp, Steps Camp, direk langs die Sunbird Hotel. Die kamp is deel van dié vyfster Sunbird Hotelgroep en word ook deur die hotel bestuur. Verbasend daarom dat daar geen warmwater in die netjiese ablusie was nie! Ons maak kennis met Martin van Franschhoek (nee, dis nie sy van nie) in die Boland. Martin, sy vrou en twee seuns van ongeveer 8 en 10 jaar toer in ‘n Unimog wat omskep is in ‘n tipe toerbus. Hulle toer vanaf die Kaap na Engeland en omdat die toer twee jaar gaan duur gee hulle die kinders ‘tuisonderig’ op internet. Die twee seuns kom baie gehoorsaam en gedissiplineerd voor. Hulle het ons veral beindruk toe hulle papierborde en plastieksakke in die braaivleisvuur aan die brand steek en mekaar daarmee in die kamp rondjaag, seker deel van hulle huiswerk?
Ons wou graag nog ‘n dag of twee in Malawi spandeer maar die wind het geweier om te gaan lê en ons verplig om die volgende dag in ‘n Westelike rigting te vlug, weg van die meer af Lilongwe se kant toe. Dit was ‘n jammerte want ons kon nie die Malawi meer met sy mooi strande en vakansieoorde werklik ervaar nie, ons sal weer moet gaan. As Rip van Winkel se storie waar is moes dit seker in hierdie land gebeur het want in Malawi is more nog ‘n dag. Rip sou heel waarskynlik ná 100 jaar wakker geword het en geen verandering gemerk het nie.
Die lugreëlaar werk nog steeds nie en ons ry om so vroeg moontlik by ‘n werkswinkel in Lilongwe te kom. Pete het die lugreëlaar gediagnoseer as bloot net sonder gas. Gelukkig ry ons in ‘n besige deel van Lilongwe feitlik vas in ‘n ‘aircon specialist’ werkswinkel. Ongelukkig het die ‘specialist’ geen gas nie! Gelukkig is dit feitlik middagete en die ‘kundige’ loer oor sy skouer om te sien waar die baas is en sê hy het gas by die huis net om die draai. Ongelukkig sit Erina toe weer op die harde bankie tussen die sitplekke maar gelukkig is die ‘kundige’ se gas die helfte goedkoper as sy baas s’n. Hy maak vol en ons het weer lugreeling. Die Spar en Game in Lilongwe het vars Suid Afrikaanse produkte en die inkopies daar maak dat ek die Landie moet trap om betyds Chipata oorkant die Zambiese grens te haal.
Zambië en die Zambesi
‘n Overlander bestuurder in Malawi het ons aanbeveel om te oornag by Mama Rula’s, ‘n lodge net deur Chipata met ‘n restaurant, kroeg, swembad en nog ander geriewe. Die Afrikaanse eienares, Andrea, se voorkeurdrankie is blykbaar Amarula en die swart overlanderbestuurders het Amarula verander na Mama Rula’s, maak nogal sin en steek vas in die geheue. Andrea en Wynie Breytenbach het Mama Rula’s jare gelede uit niks begin en het nou ‘n florerende oornagoord vir toeriste. Hulle is self iewers met vakansie. Hulle dogter Beat, en Diana Seri, ook van Suid Afrika en ook familie, werk om die beurt by die ontvangs.
Ons moes verwag het dat daar ‘overlanders’ sou wees maar was nog steeds vererg om hulle te sien, baie van hulle. Ek betaal vinnig om kamp te maak voor sononder. Net toe die kamp mooi ingerig is verskyn Beat met ‘n groot glimlag en kondig aan: “ Oom Fanie, tannie Seri het my ma gebel om te sê julle kamp hier by ons. My ma weier dat julle kamp. Julle slaap met die komplimente van Mama Rula’s in een van die gastekamers naby die swembad. Jammer dat Oom klaar kamp opgeslaan het”. Om kamp af te slaan in die nag is nie ‘n grap nie maar enigiets om Erina gelukkig in ‘n luukse kamer te sien ontspan!
‘n Halfuur later betrek ons die kamer, ewe netjies met ‘n warm stort en twee gerieflike enkelbeddens. Ongelukkig vir ons het een van die ‘overlander’ groepe besluit om laatnag reg voor ons kamer om ‘n vuur te kuier tot die vroeë oggendure. Na hulle almal uiteindelik bed toe is het ‘n sagte briesie gesorg dat die smeulende vuur se rook ons soos heuningbye uit ‘n korf verdryf het. Ons het feitlik versmoor. Nie ‘smoked Russians’ nie maar wel ‘smoked Boertjies’ en dit was nie Mama Rula se skuld nie. Ek het mos gesê die overlander mense het geen respek vir mede vakansiegangers nie. Drie uur die oggend was daar geen asem in die kamer oor nie en ek het vyftien keer heen en weer tussen die badkamer en die vuur gedraf met die ketel om die smeulende kole te blus. Moeg maar ten minste met skoon lug in ons longe het die slaap ons oorval.
Danksy die ‘overlander’ bestuurder se wenk het ons ten spyte van die vuur petalje ‘n heerlike ondervinding by Mama Rula’s gehad. Dankie aan die Breytenbach familie en Seri vir hul vriendelike gasvryheid. Dankie vir die lekker kuier en gesels, ons het dit nogal nodig gehad. Die volgende oggend nooi Seri ons vir ‘n koppie koffie ‘op die huis’ by die Spar in Chipata wat sy vir Wynie en Andrea bestuur. Ons is met ‘n lekker gevoel en breë glimlagte weg uit Chipata. Tipiese Afrikaanse gasvryheid, sê ons vir mekaar.
Dieselfde overlander toergids het ons vertel van ‘n kamp direk langs die brug oor die Luangwa rivier. Dit was egter ‘n swak wenk. Die kamp word bestuur deur die Britse eienaars maar is verwaarloos, stowwerig en te naby aan die grondpad na die Zambesi rivier. Ons draai toe die Landie Suid, Zambesi toe. Die Zambesi het deur die jare vir my ‘n spesiale aantrekkingskrag gehad. Ek en Erina het die rivier die eerste keer in Desember 1970 besoek toe ons ewe ‘grand’ ‘n paar dae in die Victoria Falls Hotel gebly het. Daarná was ek weer ‘n paar keer saam met Kitch Christie, Ray en Norman Mordt en ‘n paar ander vriende by die rivier om vis te vang. Ek kon nie wag om weer langs hierdie magtige voedingsaar in die middel van Afrika net te sit en kyk en te sit en kyk nie.
Waar die Luangwa rivier aansluit by die Zambesi is die Luangwa dorpie of gemeenskap. Hulle hou hulself besig met niks. Ons het gehoop vir ‘n kampplek op die oewer maar weereens ongelooflik het niemand nog ooit daaraan gedink om ‘n kamp daar te bou nie! Glo my, die kaart wys akkommodasie by die rivier maar daar is nie. ‘n Wit regeringsvoertuig hou langs ons stil en die bestuurder bied hulp aan. Daar is geen akkommodasie hier in die Luangwa dorpie nie maar hy gaan iets probeer reël. “Volg my”, sê hy. Op ‘n koppie langs die Zambesi rivier hou hy stil en gesels met ‘n skynbaar belangrike persoon, baie deftig geklee in ‘n swart pak waarvan die moue om een of ander rede halfpad afgesny is. Die rooi krawat het tot ‘n mate opgemaak vir die verminkte pak klere. Die samaritaan stel homself toe voor as die sekretaris van die belangrike persoon wat niemand minder is nie as Sy Edele die minister van Provinsiale Administrasie, Mnr. Charles Shawa. As Suid Afrikaners het ons nie werklik besef hoe hoog geag die minister onder sy landgenote was nie maar het gou agtergekom toe hy met ‘n sagte stem met hulle praat en hulle met spoed sy wense uitvoer. Wat ‘n aangename persoon was hy nie! Vol grappies en kwinkslae. Hy wou ook nie terug na Lusaka vertrek voor daar fotos geneem word nie. Sy statige vrou, Louise, staan onwillig nader en ons maak beurte om mekaar af te neem.
Sy Edele reël dat ons mag kamp op die rotskoppie. Ons het twee dae op die rotskoppie gekamp met ‘n baie mooi uitsig oor die Zambesi. Die volgende oggend ontspan ons heerlik in die koelte op die rots en lees. Erina lees haar derde boek en ek lees padkaarte en notaboeke. Later die oggend stap oons deur die woongebied. Die mense is arm,
brandarm. Hulle stapelvoedsel is mieliemeel en gerookte barbers. Die kinders drom om ons saam en vra kos maar ek het mos nou al my les geleer. Laatmiddag huur ons ‘n toergids om ons rivier op te neem vir ‘n uitstappie. Die hoogtepunt – of was dit ‘n laagtepunt? – van die dag was toe ons die toergids se motorboot 2 Km moes help terugroei nadat die enjin gaan staan het. Ons marteling was nog nie verby nie. Met skok besef ons dat die hulp met die roeiery die toergids gladnie beindruk het nie want terug op die wal verdubbel hy skielik sy fooi! Om moeilikheid te vermy het ons maar betaal en ry teleurgesteld terug klipkoppie toe. Ons het daardie nag verdien om rustig te slaap.
Dit was die 33ste dag van ons toer. Die pad na Lusaka was mooi, Wes Kaap standaard. Lusaka is ‘n besige stad met baie verkeer. My eerste taak was om die lugreëlaar te laat herstel wat alweer al sy gas uitgelek het. In my haas om by die Land Rover agent uit te kom ry ek onbewus deur ‘n spoedlokval en ry ewe rustig aan. Die verkeersmanne sit my agterna en vang my 2 Km verder. Nodeloos om te sê, die boete was dubbel wat dit moes wees volgens die Land Rover werkswinkel se bestuurder, en ek moes kies tussen onmiddellik in kontant betaal of tronk toe! Raai wat het ek gekies? Riana, ‘n vriendelike Afrikaanse dame van die Kaap is die werkswinkelbestuurder. Sy laat die gas weer volmaak en vra genadiglik geen betaling nie, dankie Riana!
Oppad deur Lusaka na Eureka Camp kry ons geleentheid om die stad te bekyk. Mens kan die Britse invloed van dekades gelede nog duidelik sien in die argitektuur van die huise en geboue asook uitleg van die parke en tuine. Majestieuse herehuise, gebou in die koloniale tyd en seker 80 of 100 jaar oud, word nou meestal bewoon deur invloedryke swartmense. Die lanings en strate vertoon indrukwekkend met Jakarandas en Akasias. Mens kan jou voorstel hoe ‘n mooi en welvarende stad dit moes wees ‘n paar dekades gelede. Die pragtige gholfbane, perdepolo en perderesiesbane hou sekerlik baie interessante gebeurtenisse en stories geheim.
Eureka Camp is ‘n oase ongeveer 15 Km buite Lusaka oppad na Kafue Gorge. Dis ‘n mooi kamp met skoon ablusie geriewe. Ons stort heerlik en ek maak ‘n groot vuur toe die son sak. Vanaand braai ons heerlike skaaptjops en wors. Daardie eerste happie van ‘n ordentlike skaaptjop met ‘n vetrandjie is darem iets om te onthou! Ons verlang na ons vriende Jannie en Romi in Hermanus want Jannie is ‘n skaapeter soos ek. Ons kan lank uitbrei oor hoe sy tjop smaak en dan weer hoe myne smaak. ‘n Paar jaar gelede was ons op die oewer van die Chobe rivier deur baie vriendelike mense van Vrede genooi vir ‘n braai by hulle kamp. Die tjops daardie aand sal ek ook nooit vergeet nie, maar hulle was skaapboere en het geweet wat om saam te bring op vakansie. Ek het agterna gewonder wat hulle moes dink toe ek ‘n derde keer opstaan vir nog ‘n tjop. Ai, kon ek nie maar myself in toom hou nie?
Die pad van Kafue Gorge na Livingstone is goed en die landskappe is prentjiemooi. Ons ry rustig en arriveer lank voor sononder by dié geskiedkundige dorpie. Eers bank toe vir kontant en toe begin die soektog vir slaapplek. Op en af, heen en weer, almal is vol. Eindelik kry ons ‘n staanplek by Safari River Lodge. Binne 5 minute is ons kamp ingerig en ons haas ons na die dek waar almal ontspan om die laaste sonstrale oor die water te bewonder. En dit was ‘n onvergeetlike ondervinding. Die fotos spreek vanself. Met ‘n whisky en ‘n Amstel sit ons daar asof ons in ‘n luukse suite oornag en nie kampeerders is nie. Ha ha! Ons voel so ‘grand’ ons eet sommer ‘n aandete daar met kersies op die tafel en al.
Die apies in hierdie kamp is sommer baie slimmer as ek. Tot vermaak van ons medekampeerders het hulle ‘n ordentlike gat van my gemaak. Erina het vir my ‘n heerlike toebroodjie op die tafel neergesit vir ontbyt en toe ongemerk verdwyn badkamer toe. Ek was besig om kamp af te slaan en het bietjie hulp nodig gehad. Ek hoor haar nog by die tafeltjie en roep maar kry geen antwoord nie. Toe ek verergd omkyk is ek net betyds om te sien hoe ‘n donnerse apie die laaste hap van my kouevleistoebroodjie sluk! Ek storm hom met die doel om hom ‘n klap of twee te gee, maar toe ek uit die blokke kom sit hy al in die boom en lippe aflek. Dis presies wat sy tien pêlle voor gewag het want toe stroop hulle die oop Landie van alle vrugte, lekkers en beskuit. Toe ek terug hardloop onder die luide gelag van die medekampeerders gryp apie A agter my die drie piesangs wat een van sy pêlle laat val het en sit binne twee sekondes weer in dieselfde boom. Nou lag die toeskouers sommer so uit die maag uit. Ek moes toe vinnig besluit, moet ek hulle storm of weer die apies probeer? Toe ek moeg terugstap Landie toe om te probeer red wat ek kon gooi apie A my wragtig met ‘n half gevrete piesang! Ek dink die kampeerder met die groot maag was baie ná aan ‘n hartaanval.
Naas en Jake is Afrikaanse ouens met geen rugby verbintenisse nie. Hulle woon albei in Livingstone en albei ry Landies. Hulle sê dis al wat hou daar. Ek volg hulle tot diep in die bos buite Livingstone want daar is ‘n swart lugreelaar ‘expert’, sê hulle. Hy strompel nader, gee een kyk en sê die kondenseerder is gekraak en daarom lek die gas binne ‘n dag uit die sisteem. Ons sal so moet ry tot Katima Mulilo. Daar moet ek soek vir Dick Sharpe, hy sal die gekraakte kondenseerder kan sweis. Ons ry terug dorp toe vir deeglike voorraad aanvulling ná die apie episode. Ek wonder wat het Livingstone in so ‘n geval gedoen? Ek meen, die apies was daai tyd ook daar maar daar was geen winkels waar hy kon voorraad aanvul nie.
Naas beveel aan dat ons deur die bopunt van Zimbabwe na Kasane in Botswana ry om sodoende die baie besige grenspos by Kazungula te vermy waar al die vragmotors en meeste toeriste deurgaan. Volgens hom wag mens lank by Kazungula vir die veerboot oor die Zambesi en as gevolg van die veerboot is dit ook heelwat duurder. Ons moes toe dus deur twee grensposte gaan wat volgens Naas en Jake steeds goedkoper sou wees. Sodoende sien ons ook weer die Victoria Waterval wat ons laas in 1970 met ons Kersvakansie gesien het.
‘Mosi oa Tunya’ noem die Matabeles van Zimbabwe die waterval. Die Engelse vertaling daarvoor, ‘Smoke that thunders’, val vir my beter op die oor as die Afrikaanse vertaling. Dit is die wydste gordyn van water op aarde en ook een van Die Sewe Wonders van die Wêreld. Ons spandeer ook ‘n tydjie by die baie mooi internasionaal bekende Victoria Falls Hotel. Dit was indrukwekkend om te sien dat die hotel in perfekte toestand gehou word, presies soos ons dit ervaar het 40 jaar gelede.
Zambië was nie baie vriendelik teenoor ons nie maar die magtige Zambesi en die Victoriavalle het vergoed vir die bietjie swaarkry. Dis ‘n pragtige land, asemrowende mooi landskappe en baie vriendelike mense. Weereens jammer dat die regeringsamptenare met outoriteit in die Afrika strik van korrupsie verval het. Ons sal ten spyte weer hierdie mooi land besoek.
Botswana, Namibië en goeie nuus
Voor ons vertrek uit Hermanus het ek ‘n geheime kompartement of kassie in die Landie ingebou waar ek waardevolle artikels wat ek nie gesteel (of gekonfiskeer) wou hê nie, kon wegsteek. Ek het byvoorbeeld ons kamera, ons kontant, ons paspoorte, my knipmes, die biltong en die skaaptjops in gedagte gehad vir dié kompartement. Heelwat vriende het kom groet voor ons vertrek uit Hermanus en ek het baie genot geput uit hulle onvermoë om my ‘James Bond’ wegsteekplek te vind. Dit was goed beplan en al moet ek self sê, goed gebou ook. Maar ongelukkig werk dit nie as jy nie onthou om dit te gebruik nie! (he he)
Erina begin ernstig huistoe verlang. Ons ry nou reg Wes en mik vir Namibië waar ons Suid sal draai Kaap toe. Maar
eers moet ons nog deur die bopunt van Botswana en die Kaprivi Strook. Ongeveer 2 Km verby die grenspos in Botswana oppad na Kasane ry ons ewe opgewek en vrolik. Ons sien uit na Kasane en die Chobe rivier. Ons het heerlike wors en skaaptjops gekoop in Livingstone en dit lê heerlik verkoel in die yskassie. Al wat kort is ‘n vuurjie, ‘n whisky en ‘n Amstel.
Ons luister te lekker na ABBA se ‘The Winner Takes It All’. Die pad maak ‘n wye draai na links en heel onverwags stap ‘n oorgewig vroue polisiebeampte in uniform, pistool aan die sy en al, voor ons in en wys ons moet stilhou. Sy is seker die vet Michelin Mannetjie se vrou, dink ek. ‘n Groot kennisgewing links van die pad sê: ‘Veterinary Checkpoint’. “O donner, bek en klou seer” sê ek. “Ons tjops! Ons wors! Stop gou en sit als in die James Bond kassie!” sê Erina. Te laat, mev. Michelin stap waggelend tot by die ruit en beduie ek moet oopmaak, sy wil praat. Sy vra hygend dat ek agter moet oopmaak en roep haar manlike kollega nader vanwaar hy langs ‘n vervalle houtkantoortjie sit en slaap, om ondersoek te kom instel. Stadig, bietjie vir bietjie haal hy ons aandetes vir die volgende week uit die yskas en gooi dit op die pad neer, vakuumverpakte vleis, groente, melk, kaas, feitlik als.
Met skrefieoë en ‘n skewe glimlag sê mev. Michelin “Yes ….eh….. I êm konfieskyting dies foot”. Ja, dink ek, dis duidelik dat jy al baie ‘foot’ hier ge-konfieskyt het om by die huis mee te gaan ‘selebryt’.
“You’re not serious, are you?”
“Yes, I êm seerrias” en die twee van hulle begin ons aandetes wegdra na ‘n koue hoop as waar hulle beduie hulle gaan dit verbrand. Daar is geen vuur nie en nou moet ek besluit, moet ek wag en kyk hoe hulle vuurmaak en als verbrand of moet ek hulle glo en aanry? Hulle gaan not ‘n hel nog vetter raak van ons kos, besluit ek. As ons dit nie self eet nie gaan niemand dit eet nie en gaan haal die byltjie agter uit die Landie.
“Nô …… nô!” skree mev. Michelin en probeer keer maar ek ‘chop’ al die tjops, wors, groente en sommer als laat dit lyk soos ‘n rou boerepotjie wat op die grond omgekeer is. Toe ons wegry hoor ek haar nog: “Nô, nô …..you are not allowed……..” en sy swaai haar vet arms waggelend in die truspieël.
Ek is ietwat van ‘n puris wanneer dit kom by die uitspraak van plekname in Afrika en raak kriewelrig wanneer mense dit verdraai of verkrag, soos in die geval van Chobe – korrekte uitspraak Tshôbê – wat ‘Tsjoubie’ geword het. Ek vermoed dit kom van die Engelse gebruik om plekname se uitspraak te verdraai. So is Harare oor jare verdraai na ‘Hawrawry’ en Limpopo – korrekte uitspraak Limpôpô – verdraai na ‘Limpoupou’ deur die Engelssprekendes en na ‘Limpoopoo’ deur Afrikaners. Ai tog. OK, ek het weer afgedwaal.
Die Chobe (Tshôbê) River Lodge was vol toe ons uiteindelik daar aankom. Ons beland toe by ‘n baie mooi kamp, die Thebe River Camp. Heerlike skoon geriewe met ‘n kroeg vir ‘n whisky en ‘n Amstel maar ongelukkig baie overlanders. Ons kyk die eerste keer in 5 weke televisie in die ‘sports bar’. Dit was ‘n Super 14 wedstryd tussen die Sharks en Stormers. Kannie onthou wie gewen het nie. Die nag was koud langs die rivier. Die volgende oggend sommer vroeg jaag die skreeuende sonbesies ons uit. Ek ontmoet ‘n ou skoolvriend, Johan (Vennas) Venter, in die badkamers en ons gesels lekker oor dinge wat skoolvriende oor gesels. Hy en sy vrou, …… , toer saam met ‘n groot groep deur Botswana en omgewing.
Ons besluit om nog ‘n nag in Kasane te bly maar wil graag by Chobe River Lodge kamp. Dis waar ek ‘n paar jaar vantevore die Vrystaters se tjops geproe het, so ek het goeie herinneringe van dié kamp. Weereens loop ons ‘n bloutjie, hulle is nog steeds vol. Ons draai toe Wes en besluit om te ry tot Katima Mulilo. Die pad deur die Chobe Wildreservaat is baie mooi. Heelwat olifante wat wei weerskante van die pad tussen die rivier en die digte bosse van die reservaat. Ons hou stil onder ‘n groot Akasia vir ‘n piekniek van nuutgekoopte kouevleis, kaas en Provitas met koffie.
By Ngoma brug is beide die Botswana en Namibiese beamptes op en wakker en ons is sommer gou gou deur en oppad na Katima Mulilo. Ons kry ook sommer vinnig Dick Sharpe se werkswinkel en maak ‘n afspraak vir die volgende oggend vroeg. Op die oewer van die Zambesi is Protea Lodge met ‘n baie gerieflike kamp onder groot bome en goed versorgde grasperke. Ons bespreek vir twee dae. Daardie aand langs die vuur was ‘n volmaakte Afrika ervaring.
Die seekoeie het ons hard en duidelik laat besef dat dit die Zambesi is wat voor ons verbyvloei en dat ons in die middel van Afrika is. Die hele nag wei hulle al om ons kamp en baljaar van vroeg die volgende oggend in die vlak water met die gepaardgaande gebulk wat jou ingewande laat vibreer. Ek wonder waarom die manlike diere ook koeie genoem word? Is hulle dan ‘gay’, hulle teel dan soos konyne?
Dick Sharpe ‘upstage’ die volgende oggend vir Roger Federer as my nuwe held. Wel, miskien was dit net tot ons Katima Mulilo verlaat het maar hy kry wragtag die lugreëlaar weer in werking. Hy was so gaaf om my weer die 5 Km terug te neem kamp toe waar ek en Erina die middag langs die rivier ontspan terwyl hy werk aan die lugreëlaar.
Vyfuur die middag is hy terug met die reggemaakte Landie en gee my ‘n faktuur vir slegs R1500, ‘n ‘bargain’ wat my betref want ek is oortuig daarvan dat meeste van die werkswinkels in Suid Afrika in beginsel ‘n minimum bedrag van R2000 op hulle fakture laat aanbring en dan van daar af verder werk met die syfers.
Die seekoeie sorg dat ons nie laat slaap nie en ons vertrek redelik vroeg na die Kwando of Quando rivier. Dick het vertel van die mooi kampe stroomaf en hy was reg. Hoe nader mens aan die Okavango Delta kom hoe mooier raak die landskap. Die groot Mopanibome is ook ‘n aanduiding dat ons nou in Namibië is. Ons slaap ‘n nag by Kwando Camp en geniet vir oulaas die kalmerende – of is dit inspirerende? – effek van ‘n Afrika rivier.
Die volgende 8 dae was ons doel om by die huis te kom. Ons het reeds ‘n paar keer deur Namibië gereis en het die pad geken. Namibië is vir ons ‘n soort toevlugsoord of tweede tuisland en ons sien uit om hierdie mooi land weer en weer in die toekoms te besoek maar nou wou ons graag huistoe. Ons het oorgebly by Popa Valle op die Okavango rivier en toe by ‘n teleurstellende Kudubos Kamp naby Otjiwarongo. Die nagte word al kouer hoe verder Suid ons ry. Daar is ‘n koue front oor Namibië en ons ry hard. Die Landie hardloop soos ‘n Basoetoeponie wat weet hy gaan huistoe. By Okahandja hou ek in die hoofstraat stil vir geelspek Namibiese beesbiltong maar hulle is uit voorraad. ‘n Vriendelike man kom maak kennis en sê ek moet daar kom konsert hou. Ek het onmiddellik gedink hy is van sy wysie af maar later begin dink dis nie ‘n slegte idee nie. Hy verwys my toe na ‘n padstal langs die hoofpad maar toe ek die prys sien drink ons maar net koffie en ry aan. Ek wil net ‘n bietjie biltong koop, nie die winkel nie.
Die volgende oorslaap was by Anib Lodge naby Marienthal. ‘O koud is die windjie en skraal, en bleek in die doflig en kaal…….’ het dit deur my kop gedraai. Dit was sonder twyfel die koudste nag van ons toer. Dis duidelik, ons is nou uit die warm sentrale gedeelte van Afrika. Die kampplek is afgeleë in die oopte en die Landie met sy daktent staan soos ‘n miershoop tussen die lang gras, ‘n maklike teiken vir die ysige wind. Ons eet damn duur by die lodge en kruip vroeg in ons koningsbed. Die warmwatersak het baie gehelp.
Die volgende middag doen ons ‘n vinnige stop by die kuipe, ‘n Wimpy in Keetmanshoop, en ry die lang afdraande na die Oranjerivier. Teen skemer hou ons uit blote nuuskierigheid stil by ‘n gastehuis naby die Noordoewer grenspos. ‘n Rumoer op die stoep trek my aandag, “Fanie, wat soek jy so ver van Hermanus?!” ‘n Klomp Hermanus manne en hul vroue wink ons nader van die stoep waar hulle kuier. Ek roep Erina uit die Landie en ons sluit aan by Jimmy en Riana Bishop en hulle toergroep. Die son laat ons toe om ‘n uur of wat saam met hulle te kuier en ervarings te deel. Hulle was in Botswana en het baie te vertel gehad. Voor die son sak groet ons en ry Wes langs die Oranjerivier af na ons bestemming, Camp Provenance.
Ons het al dikwels by Camp Provenance by Noordoewer op die Oranjerivier oornag. Dit is die basis van Felix Unite se kanoevaarte op die Oranje en ‘n spreekwoordelike oase op jou pad na die Noorde of Suide. Daar is ‘n gesellige kroeg waar almal saans met die baie joviale Carlos Peres, een van die eienaars, vergader om ervarings te deel, of jy kan sommer net op die stoep ontspan met ‘n whisky of Amstel en meegevoer raak deur die stille krag van die Oranjerivier.
Hierdie kamp beskik oor al die fasiliteite om selfs die mees kritiese vakansiegangers tevrede te stel, van netjiese kampeerstaanplekke tot luukse lugversorgde chalets langs die rivier. Die kanoevaart lyk vir ons baie opwindend en so langs die vuur begin ons beplan vir ‘n paar dae op die Oranjerivier saam met die twee seuns en hul vriendinne. Dink net aan die avontuur om te roei en saans moeg op die oewer te kamp met net die water, die sterre en ‘n jakkals se geroep hier en daar!
My selfoon lui, dis ons tweede seun Francois. Hy vra so bietjie uit oor waar ons onsself bevind en toe kom die werklike rede vir die oproep, “Julle gaan Oupa en Ouma word, Ulandi is 12 weke swanger”. Hy sê dit so terloops asof hy ‘n gholfkompetisie gewen het. Dis maar soos Francois is, sy stem verraai nie maklik sy emosies nie. Ek en Erina kon al 15 jaar vroeër oupa en ouma geword het as die seuns hulle samewerking gegee het maar jy kan mos nie deesdae se jongmense vertrou nie (he he).
“Yippee! Dis die beste nuus in jare, dankie vir die bel Francois”
“Dis OK, waar’s Ma?” Hulle praat en opgewonde gaan ons uiteindelik slaap. Toe ek die komberse oor ons trek dink ek so in die stilligheid, ‘Hier slaap ek wragtag uit eie wil saam met ‘n ouma in dieselfde bed, wat word van my?’
As die son sak in die Weste
Die tuiskoms bly maar die beste as die son sak in die Weste. Ons Afrika toer was lank en moeilik moet ek erken. Dit was vol avonture, soms gevaarlik en riskant maar meestal aangenaam. Die hoogtepunte van die reis het die laagtepunte ver oortref en ‘n wye spektrum van herinneringe nagelaat. Voornemende Afrika verkenners moet weet daar is basies twee maniere om dit te doen, die 4X4 ry en kamp of oornag in chalets of lodges, of die luukse vlieg en hotelverblyf metode. Om self te ry sien en ervaar jy soveel méér as met die luukse metode en vir my was die keuse maklik. Dit was werklik ‘n toets van uithouvermoë en karakter en die uitdaging is wat dit vir my so interessant gemaak het.
Erina het werklik my respek en bewondering afgedwing. Dit was ooglopend nie ‘n maklike toer vir haar nie maar sy het tot die einde vasgebyt. Ek is nie ‘n maklike persoon om mee saam te toer nie – sê hulle – maar sy was altyd in goeie luim en bereid om enigiets te trotseer om my ontwil. Ek sou dit saam met niemand anders kon doen nie en daarom is ek diep in die skuld by haar. Met haar gesindheid het sy ons Afrika toer ‘n sukses gemaak.
Van Noord Afrika weet ek nie veel nie maar as ek moet oordeel aan wat ons in die paar lande in Suider Afrika ervaar het is Afrika in my opinie op die afdraande pad. En dié afdraande se helling is skerp. Ons het die agteruitgang en verwaarlosing van infrastruktuur in elke land gesien. Ons het die verwaarlosing van onderwys, opleiding en die geboue en persele daarvan gesien. Ons het grootskaalse werkloosheid gesien en ervaar waar duisende Afrikane doelloos in strate ronddwaal. En dan het ons eersterangs die Afrika kanker ervaar, naamlik korrupsie onder al die lande se regerings amptenare, blatant en skaamteloos. Hoe enigiemand met logiese denkvermoë kan dink dat iets soos ‘n Afrika Rennaissance moontlik kan slaag gaan my verstand te bowe.
Maar dis goed om terug te wees in Hermanus en om die volgende Afrika ‘ekspedisie’ te beplan. Mens moet waak om te verval in ‘n gemaksone en roetine wat tot belangeloosheid kan lei. Ek is amper seker toe ek vanoggend die Landie start om dorp toe te ry hoor ek onder die enjinkap ‘n ongeduldige gebrom. Dit klink amper soos, ‘Gaan ons dan nie weer Afrika toe nie?’