Biografie

Fanie De JagerFanie de Jager is ‘n klassieke sanger van opera, ligte klassieke musiek asook populêre ballades. Gedurende sy loopbaan wat strek oor ‘n tydperk van 40 jaar het hy opgetree in opera en konsertverhoë oor die lengte en breedte van Suid Afrika en word nog steeds genooi as gaskunstenaar by verskeie geleenthede.

Fanie  is gebore in Newcastle op die steenkoolvlaktes van Kwazulu, vroeër Natal. Daar tussen groen heuwels en massiewe bloekombome in ‘n klein dorpie, Dannhauser, het hy skoolgegaan by ‘n dubbel medium, Afrikaans en Engels laerskool. Die de Jager familie het later verhuis na Pretoria waar hy hoërskool voltooi het. Beide sy ouers was baie musikaal en Fanie was van vroeg af blootgestel aan klassieke musiek in die huis, geen wonder nie dat hy kort ná skool in 1970 met klassieke sangstudie begin het.

Sy eerste sangonderwyser was ‘n Duitse dame, Frau Gründler, verbonde aan die musiekskool van die Pretoria Tegnikon. Daarna was hy vir ‘n kort tydperk ‘n leerling van Barbara Veenemans, van die Veenemans familie faam. Die volgende 8 jaar was sy leermeester Albrecht Lewald, ‘n Duitse maestro wat kort na die 2e wêreldoorlog  na Suid Afrika ge-emmigreer het en baie plaaslike sangers soos Gé Korsten en vele ander tot groot hoogtes gelei het. Met Albrecht Lewald se afsterwe het nog ‘n meester, George Kok oor ‘n tydperk van 7 jaar Fanie die fynere kuns van Italiaanse bel canto sang geleer.  Deur al hierdie jare was Fanie betrokke by opera en ander klassieke uitvoerings en konserte  in en om Pretoria. In dié tyd het hy hoofrolle gesing in gewilde operas soos Don Pasquale, Gianni Schicchi, La Traviata, Rita, Der Wildschütz en Ariadne Auf Naxos.

Fanie wou nog altyd betrokke raak by ligter musiek. In 1987 het hy ‘n opnamekontrak beklink en begin opnames maak in Afikaans. Gebrekkige bemarking en ook werksverpligtinge het veroorsaak dat hy oor die volgende 10 jaar min opgetree het en feitlik van die Suid Afrikaanse musiektoneel verdwyn het.

Fanie De Jager   Fanie De Jager   Fanie de Jager   Fanie de Jager

In hierdie tyd het hy ‘n leemte gemerk in Suid Afrikaanse musiek naamlik dat die mooi melodieuse liede en ballades van weleer nie meer gehoor word nie. In 2001 het hy op eie stoom weer begin opnames maak, hierdie keer Ierse, Skotse en ander gewilde ballades. In 2001 het sy eerste album,  My Sentimental Soul, verskyn. Kort daarná was hy genooi  om op die TV musiekprogram, Noot vir Noot, op te tree.  My Sentimental Soul  het binne ‘n paar maande goue verkope bereik. Dit het Fanie en sy vrou, Erina, se lewens omgekeer en sedertdien het hy ‘n totaal van 9 albums opgeneem waarvan 3 goue status behaal het. Uitnodigings vir optredes het ingestroom en hy het oor die afgelope paar jaar meer as 400 konserte landwyd gedoen.

Fanie De Jager and Erina De JagerMenige versoeke om ‘n album van Gé Korsten se liede op te neem het gelei tot die album Fanie Sing Gé Korsten Treffers. Hierdie album is ‘n tentoonstelling van sy vermoë om klassieke sowel as ligte musiek met dieselfde passie en vertolking te sing.

Oor die afgelope 4 jaar neig hy egter terug na opera en operette waarvoor hy opgelei is. Sy twee klassieke albums, My Classical Soul en  Classics Forever word albei as van wêreldgehalte beskou en is baie gewild onder klassieke musiek liefhebbers. Beide die albums sluit musiek in vanuit verskillende klassieke genres soos opera, operette, Neapolitaans, geestelik en ook uit musiekblyspele. Video opnames van O Sole Mio en La Donna E Mobile was ook ‘n geruime tyd op die speellys van Classic FM TV in London, Verenigde Koninkryk.

Fanie de Jager was te sien in talle TV programme deur die jare en van sy Afrikaanse en Engelse musiekvideos word steeds uitgesaai op TV2 asook Kyknet.